Twee gesinne is Sondagmiddag skielik in rou gedompel nadat ’n tienerseun, John-Lee Albertus (15), en Yusriy Buys (23), in Smartie Town in Paarl-Oos doodgeskiet is.
Yusriy se pa, Yaseen Buys, ’n provinsiale verkeersbeampte, beskryf sy seun as die “lieflikste mense-mens”.
“Hy was só protective oor al sy naasbestaandes en familie . . . só ’n jolly mens wat nooit aan kwade gevoelens of verwyte vasgeklou het nie.”
Yaseen sê sy seun was ’n voorbeeldige jongman wat hom nooit met onderduimse karakters in die gemeenskap geassosieer het nie.
“Hy was nie bang of geïntimideer om met enige moeilikheid meegesleur te raak nie,” sê sy trotse pa.
Yusriy was ’n taxibestuurder, ten spyte van sy pa se raad om eerder van dié bedryf weg te bly.
“Kyk, die kinders van vandag volg mos hul eie kop. Hy wóú taxi ry en só het hy sy bestaan gemaak.”
Yusriy is Maandag (6 Maart) ingevolge Moslem-praktyk in die Parys-begraafplaas begrawe.
Yaseen twyfel dat die mense wat vir sy seun en dié van die 15-jarige John-Lee se skietdood verantwoordelik is, met bende- of taxigeweld verband hou.
“Namate ’n mens stories in die gemeenskap hoor, dink ek dit het dalk meer te doen met jaloesie teenoor hom, aangesien hy nie met sommige groepe wou meng nie.”
Yusriy laat agter ’n sewe maande oue babadogtertjie, twee broers, twee half-sussies en sy ouers, Rashida, Yaseef en stiefma, Crizelle, agter.
“My lieflike mensie sal hy vir ewig bly,” sê Yaseen ter tere nagedagtenis aan sy vermoorde seun.
John-Lee se aanneem-ma, Jona Albertus, was die laaste wat voor die tragedie met hom gepraat het.
“Hy het Sondagmiddag net voor vieruur nog iets geëet, en daarna winkel toe gestap om R2-chippies te koop. So vyf minute daarna het ek skote hoor klap, en toe kom een van sy maats aangehardloop om te sê John-Lee is geskiet,” verhaal sy hartseer.
Jona het hom op die toneel sien lê. “Hy het ’n skietwond in die gesig gehad. Sy mond het nog oopgehang en ek het so aan sy gesig gevat om sy mondjie toe te maak.”
Al sy geliefdes en sy biologiese ma, Johanna Albertus, onthou hom as “die lieflikste kind”. “Hy was só lief vir diere en tuinmaak. Hy sou ook elke oggend op pad skool toe kom groet.”
Die Paarl-Oos-polisie is op soek na die verdagtes wat dié tiener en 23-jarige man se lewe op 5 Maart in Smartie Town, Paarl-Oos, geëis het.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die plaaslike polisie, het bevestig beamptes het omstreeks 16:00 by Monicastraat in Groenheuwel, Paarl-Oos, aangekom om die toneel vir leidrade te fynkam. Die oorledenes se liggame is nie ver van mekaar af nie aangetref. “Albei is met skietwonde aan die bolyf aangetref en is op die toneel dood verklaar,” sê Seekoei.
“Die omstandighede word ondersoek en die motief is in hierdie stadium van die ondersoek onbekend,” voeg hy by.
- Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om die ondersoekbeampte, speursers. Dean Jacobs, by die Paarl-Oos-polisie se speurtak by 021 877 5916 of Crime Stop by 08600 10111 of My SAPD-selfoontoepassing te kontak.





