Leonie Smith, ’n gesondheidsvoorligter, het onlangs groepe swanger vroue en vroue met babas praktiese leiding oor borsvoeding gegee. Borsvoeding is nie net die ideale voeding vir babas nie, maar ook die perfekte temperatuur, gratis en ’n spesiale geleentheid vir ma’s en babas om ’n band te vorm.


Die Wes-Kaapse afdeling vir gesondheid en welstand moedig ouers, voogde, kinderoppassers en alle volwassenes aan om kinders se welstand van jongs af eerste stel.

Dié departement meen indien almal saamwerk, kan die huidige kommerwekkende prentjie oor kindergesondheid in die Kaapse Wynland verander word.

Volgens die jongste verslag oor die impak van die diarree-seisoen op kinders van vyf jaar en jonger (1 November 2021 tot 31 Mei 2022) kry baie kinders van die Kaapse Wynland nie voldoende voeding nie, hulle is nie op datum met immuniserings nie, hul groei word nie gemonitor nie en ouers reageer nie altyd vinnig genoeg op die gevaartekens van diarreesiekte nie.

Die diarree-seisoen is sinoniem met diarree-siekte en akute wanvoeding. Wanneer ’n jonger kind diarree kry (’n loopmagie) en nie vinnig gehelp word nie, kan die kind ontwater en sterf. Kinders wat aan wanvoeding ly, word in diarree-tyd selfs swaarder getref. Kinders se immuunstelsels ontwikkel nog, en wanneer ’n kind diarree-siekte of akute wanvoeding het, kan hulle maklik ander siektes soos longontsteking kry.

In vergelyking met vorige jare se data, dui die verslag op:. ’n Skerp toename in die hoeveelheid kinders wat weens diarreesiekte in die hospitaal beland – oral behalwe die Breedevallei; . ’n Skerp styging in die aantal kinders wat longontsteking opdoen;. ’n Skerp styging in die aantal kinders wat weens longontsteking in die hospitaal opgeneem is en gesterf het; . ’n Skerp toename in die hoeveelheid kinders wat by klinieke en daghospitale weens ernstige akute wanvoeding ondersoek is. Vier kinders wat weens akute wanvoeding in die hospitaal beland het, het gesterf.

Wat dit nog meer kommerwekkend maak, is dat sewe kinders in hierdie tydperk gesterf het voordat mense vir mediese hulp na iemand uitgereik het. Die gemiddelde ouderdom van kinders wat wel in die hospitaal opgeneem is, maar gesterf het, was tussen 18 dae en 17 maande.

“Ons monitor kinders se gesondheid fyn en gee deurlopend inligting en ondersteuning aan ma’s en gesinne. Omdat ons dit fyn monitor, weet ons waarop om in sekere gebiede te fokus en kan ons ons strategie vinnig aanpas,” sê. Adriane Petersen, ’n dieetkundige van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, wat ondersteuning gee aan fasiliteite in die Kaapse Wynland. Maar, sê sy, die sleutel tot ’n beter toekoms lê in voeding. “Indien volwassenes meer fokus op borsvoeding, die insluiting van kos eers op ses maande, en voortgaan met borsvoeding tot op twee jaar, sal kinders in diarree-seisoen minder kwesbaar wees.”

Buiten goeie voeding, word volwassenes gevra om:. swangerskappe te beplan; . voorbehoedmiddels te gebruik totdat jy gereed is om ’n baba te hê (jy het nie ’n voorskrif nodig nie, maar praat met ’n gesondheidwerker sodat jy kan bepaal wat die beste opsie vir jou is); . met die werkgewer te praat oor moontlikhede om jou baba tydens die werkdag te voed of melk uit te pomp; en. kinders kliniek toe te neem vir vitamienes en inentings– dit is gratis! (Kinders kry immunisering op ses, tien en 14 weke ná geboorte, weer op nege en 18 maande, en opvolg-inentings op 6- en 12-jarige ouderdom en meisies word ook op negejarige ouderdom ingeënt).. tot die kind se tweede verjaardag elke maand met die baba na die kliniek terug te keer sodat hy of sy geweeg en gemeet kan word; . vinnig hulp te kry as jou kind ’n loopmagie het, of braak.

Kinders kan vinnig baie siek word en sterf. Ander gevaartekens wat daarop dui dat jou kind dringend mediese hulp nodig het, sluit in bloed in die stoelgang/doek, koors, maagkrampe en meer as drie los stoelgange per dag. Gaan dadelik hospitaal toe, of bel die ambulans by 10177.

Die verslag het egter ook goeie nuus bevat, waarvoor die departement sy personeel en gemeenskappe bedank. Die proaktiewe optrede van gesondheidswerkers in veral die Breedevallei, het daartoe gelei dat meer volwassenes bewus was van die simptome van diarree-siekte, en daarom het meer kinders vinnig hulp gekry. Minder kinders het dus ernstig siek geword, en minder kinders is weens ontwatering in die hospitaal opgeneem.

In die Langeberg was gesondheidswerkers bedag daarop dat gemeenskappe baie uitgebrei het en baie kinders nie vir gesondheidsorg geneem word nie. Personeel het proaktief opleiding ontvang sodat gevalle van wanvoeding vinniger geïdentifiseer en behandel kon word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article