Die jong lewe van die kranige rugbyspeler Elmarco Adonis is oor die Paasnaweek kortgeknip nadat hy doodgesteek is.
Volgens kol. Wellington Stephans, die Paarl-Oos polisie se bevelvoerder, het beamptes Sondag (9 April) omstreeks 01:28 ’n klagte van ’n steekvoorval in Dawnstraat, Smartie Town, bygewoon.
“Met die beamptes se aankoms (op die toneel) is die slagoffer hospitaal toe geneem. Die hospitaalpersoneel is ingelig dat ’n jongman met ’n steekwond bo die hart ingebring is. Die slagoffer is kort ná sy aankoms by die hospitaal dood.”
Stephans sê die 19-jarige Adonis is glo gesteek ná ’n onderonsie tussen hom en die verdagte. Die verdagte is nog op vrye voet en die voorval het niks met enige bendegeweld te doen nie, het Stephans bygevoeg.
Adonis was ’n lid van die plaaslike Evergreens-rugbyklub. Paarl Post het na die klub uitgereik, maar geen kontakbesonderhede van Adonis se familie kon teen druktyd bevestig word nie.
Intussen het kennisse en vriende van Adonis verskeie boodskappe van medelye en skok oor sy dood op sosiale media gedeel.. The young life of the talented rugby player Elmarco Adonis (19) was cut short at the Easter weekend after he was stabbed to death in Smartie Town, Paarl East.




