Ná 29 jaar in die polisiediens lê daar vir kol. Johan Barkhuizen, stasiebevelvoerder van Wellington, steeds eindelose genot daarin om die gemeenskap te help.
Barkhuizen, wat voorheen vir die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) gewerk het, is die afgelope agt jaar aan die stuur van die Wellington-stasie. Vir hom is een van die groot redes waarom hy destyds by die polisie aangesluit het om mense te help. “Om ’n diens te lewer, dit gee my satisfaksie om die gemeenskap te help. Daar is niks lekkerder as ’n lid van die gemeenskap hier instap en mens kan hom help nie.”
Op ’n vraag rondom huidige misdaadtendense in die gebied, sê Barkhuizen, bly aanrandings ’n deurlopende probleem terwyl huisbrake en diefstal van en vanuit motorvoertuie van tyd tot tyd toeneem. “Dit wissel.”
Volgens Barkhuizen word misdaadoperasies gereeld gehou en fokus geplaas op gebiede waar misdaad toeneem.
Een van die stasie se grootste suksesverhale is die afname in sjebeens in die gebied. Barkhuizen sê hulle het voorheen tot 80 sjebeens op rekord gehad. Vandag is daar slegs vyf. “Die probleem (nou) is nie met die sjebeens nie. Dis drankmisbruik, en bakleiery vloei daaruit.”
Om verder misdaad aan te spreek, word daar ook gereeld projekte onderneem om bewusmaking oor kwessies soos gesinsgeweld onder die gemeenskap se aandag te bring.
Volgens Barkhuizen word opsporingsoperasies ook deurlopend gedoen om verdagtes wat vir misdrywe gesoek word, vas te trek. “Die hele stasie weet wie die verdagtes is waarna daar gesoek word en ek het twee spanne wat werk op die targets.”
Verder steun die stasie op die gemeenskap om hulle te help om misdaad hok te slaan. “Ons het tans aktiewe buurtwagte in al die sektore behalwe die plase, wat patrollies doen en op Whatsapp met mekaar kommunikeer.”
Wellington het ook ’n Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) met ’n sub-forum in elke sektor wat verdere ondersteuning bied. “Ons het ook ’n goeie vennootskap met die hof, die munisipaliteit, verskeie sekerheidsmaatskappye en die plaaslike media. Goeie samewerking van die gemeenskap bly noodsaaklik. Ons is afhanklik van die gemeenskap,” sê hy.





