’n Veldbrand by die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg is glo die oorsaak vir die stank wat in die lug bo Wellington en dele van die Paarl hang.Foto: Drakenstein-munisipaliteit


Die stank weens ’n voortslepende veldbrand by die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg is nou nie meer slegs ’n kwellende probleem vir Wellingtonse inwoners nie, maar dit word ook in gebiede soos Newton, Groenheuwel, Klein Parys en Noorder-Paarl ervaar – met sommige inwoners wat die reuk met dié van die dood en skroeiende hare vereenselwig.

Die veldbrand naby die aanleg se rypwordingsdamme word vermoedelik aangehits deur rioolslyk wat opgedroog en gras wat intussen deur die slyk begin groei het.

Die Drakenstein-munisipaliteit sê in ’n verklaring sy branddienste kon tot nou nog nie die terrein bereik nie, en beklemtoon dat die stank geen gesondheidsgevaar vir inwoners inhou nie.

Volgens Wellingtonners is die stank egter ’n jaarlikse probleem, met sommige wat die munisipaliteit daarvan beskuldig dat hy faal om tot die kern van die probleem te kom.

Inwoners van verskeie gebiede in Wellington en die Paarl sê die stank was veral die afgelope naweek erg en hulle wil weet hoekom die brand nie behoorlik geblus kan word nie.

“Die verskriklike brandreuk wat al heelnag oor die dorp hang, maak my vanoggend regtig siek. My keel is behoorlik seer, my neus is toe en my oë voel of daar klippe in is. Indien ons ’n gesondheidsdepartement in Wellington het, moet hulle gou ’n plan maak met wat ook al so stink,” het ’n plasing deur ’n inwoner Maandagoggend op een van die Wellingtonse Facebook-groepe gelui.

Die brand word vermoedelik aangehits deur smeulende afvalslyk by die aanleg se rypwordingsdamme. .Foto: Drakenstein-munisipaliteit

Op die raadsvergadering van 24 November het Moutie Richards, ’n ANC-raadslid, ook die kwessie oor die stank geopper.

“Ek was onder die indruk dat die munisipaliteit se intervensie met die installering van UV-ligte by die aanleg ook die reuk gaan oplos. Wat behels hierdie UV-ligte? Wat gaan ons doen om die stank te stop?”vra Richards.

“Daar is aanvanklik eers na die krematorium vinger gewys, maar toe het ons besef en ooreengekom dat die probleem aan ons kant is. Ons het egter tot nou nog nie met enige oplossings vorendag gekom nie omdat mense verlede week nog oor die stank gekla het.”

Met Paarl Post se besoek aan die rypwordingsdamme Sondag (03 Desember) het ons verbrande afval, wat soos slyk lyk, in die oop veld langs die damme aangetref.

Inwoners in die omgewing van die aanleg het aan die koerant gesê hulle is nie seker of die slyk iewers by die damme uitloop en of dit die munisipaliteit is wat die vlakke van die slyk probeer reguleer nie.

Indien dit ’n probleem is wat al baie lank duur, is ons verwagting dat die inwoners wat geraak word, dit by die provinsiale departement sal aanmeld.
Grant Walters

Intussen het Grant Walters, verbonde aan die nasionale departement van bosbou, vissery en omgewingsake, aan Paarl Post gesê die verantwoordelikheid berus by hul eweknie in die Wes-Kaap om in te tree indien enige ernstige omgewingsimpak weens die brand ter sprake is.

“Indien dit ’n probleem is wat al baie lank duur, is ons verwagting dat die inwoners wat geraak word, dit by die provinsiale departement sal aanmeld. Die provinsiale departement het dan ’n mandaat om die omgewingsimpak (indien enige) te ondersoek, en enige bevindinge sal dan deur administratiewe intervensie opgevolg moet word.”

Hy sê die reg tot ’n skoon omgewing en gesonde lug word omvat in die Grondwet asook die Nasionale Omgewingswet.

“Mense reageer natuurlik op verskeie wyses wanneer dit kom by onaangename reuke. Indien dit egter ’n probleem is waarmee inwoners al vir baie lank geteister word, moet dit eenvoudig aangedurf word. Ons kan nie wag totdat dit eers ernstige gesondheid- en omgewingsrisiko’s inhou en dit dan eers prioritiseer nie,” sê Walters.

“Ons moet egter ook in gedagte hou dat luggehalte ’n baie ingewikkelde onderwerp is. Sonder al die feite kan ’n mens maklik paniek saai, en daarom moet ’n mens soveel inligting as moontlik verkry oor wat dalk tot die reuk lei, en daarvolgens aanbevelings doen.”

Die munisipaliteit sê branddienste hou intussen die smeulende gebiede noukeurig dop.

‘n Grafika toon die ligging van die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg teenoor Wellington en woongebiede in die Paarl waar inwoners glo die stank ervaar.Grafika: Rasaad Adams

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article