’n Destydse staatmaker en steunpilaar van die gemeenskap, Johann von Wielligh (84), is verlede week Dinsdag ná ’n skielike beroerte oorlede.
Johann was byna 46 jaar in die politiek voordat hy in 2011 uitgetree het op die ouderdom van 74.
Dié gebore en getoë Paarliet en oudleerder van die Hoërskool Gimnasium het die politieke arena in 1965 betree toe hy gekies is vir die bestuur van die eertydse Perdeberg-tak van die Nasionale Party.
Benewens hierdie pos was hy ook deur die jare onder andere voorsitter van die direksie van die Perdeberg Buitepos-gevangenis, lid van die direksie van die Boland Koöp Wynkelder, kommandant van die Paarlse Voortrekkerkommando en lid van die Paarlse Hospitaalraad.
Ook het hy voltyds geboer op die familieplaas Pakhuisdam buite die Paarl, die derde geslag wat hierby betrokke was.
Sy besige program het egter veroorsaak dat hy nie genoegsame aandag aan die boerdery kon gee nie en het hom genoop om die plaas te verkoop, waarna hy en sy vrou met hul vier kinders hulle op Wellington gevestig het. Aan die einde van 1980 is Wellington afgebaken as ’n volwaardige kiesafdeling en is hy versoek om homself beskikbaar te stel as Wellington se kandidaat vir die Provinsiale Raad van Kaapland.
Hy is onbestrede verkies en tree toe tot die Provinsiale Raad as die eerste en enigste LPR vir dié nuwe kiesafdeling.
In 1989 word hy deur die NP-koukus van die Parlement gekies as lid van die Presidentsraad van oud-president FW de Klerk, wat uiteindelik in 1993 uitgefaseer is.
Tussen 1995 en 2000 dien hy daarna as lid van die stadsraad van Wellington en in 2000 word hy as die DA se kandidaat vir Wyk 2 as raadslid van die Drakenstein-munisipaliteit verkies.
In dié tyd het hy verskeie projekte aangepak en inisiatiewe van stapel gestuur, waaronder die oprigting van verskeie spoedwalle in die wyk, die verkryging van finansiering vir die oprigting van ’n veiligheidsheining rondom die perseel van Ouma Granny’s House, voetoorgange in Kerkstraat, finansiering vir opknappingsprojekte by Huis Andrew Murray, asook finansiering vir die ACVV van Wellington om ’n kospakkieprojek vir behoeftiges aan die gang te hou.
Voor sy aftrede was hy ook gemoeid om projekte aan te pak vir die insameling van herwinbare huisafval.
Op die gemeenskapsfront was hy onder andere voorsitter van die Wellington Verfraaiingskomitee, die Wellington Erfenis- en Omgewingskomitee, die beheerliggaam van Hugenote Hoërskool en trustee van die Wellington-museum.
Die Von Wielligh-gesin wil die gemeenskap van Wellington bedank vir die geleenthede wat hulle gebied het aan hul Pa om sy politieke aspirasies, gemeenskapsdiens en geestelike oortuigings hier te kon uitleef.
“Hy het altyd met groot dank en waardering daarvan getuig. Julle het Pa in staat gestel om sy lewensdoel met oorgawe en passie te kon uitleef,”het sy seun Heinrich gesê.
Johann word oorleef deur sy vrou van 57 jaar, Beatrice, kinders en hul gades: Johann en Nadia, Alta en Johan, Friedrich en Karen en Heinrich en Ega asook die kleinkinders Niklaus, Ivan, Ilne, Jano, Nina, Ruan en sy dierekinders, Kerneels en Gracie. . A much loved resident of the valley who spent most of his life serving his community in the political arena, Johann von Wielligh, has died at 84.





