’n Vergadering tussen huiseienaars, die Drakenstein-munisipaliteit en die nasionale departement van water en sanitasie om probleme met die Spruitrivier te bespreek, het rolspelers skynbaar niks nader aan ’n oplossing vir jare lange uitdagings gebring nie.
Die Spruitrivier is ’n pragtige waterbron wat deur Wellington kronkel, maar vir grondeienaars aan die oewer is dit ’n bron van kommer en uitgawes. Dit spruit uit skade wat deur besoedeling, onwettige werk op private erwe en haweloses veroorsaak word.
Op die vergadering verlede Woensdag het Derril Daniels van die departement erken dat sy kantoor in Bellville ingevolge wetgewing vir die behoud, herstel en opgradering van waterbronne soos die Spruitrivier verantwoordelik is, maar bygevoeg dat eienaars op die oewer ook ’n aandeel het.
“In 1998 is die nasionale waterwet goedgekeur wat reëls en regulasies stipuleer oor werk wat aan die bronne gedoen mag word, en wat nie.
“Die waterwet is duidelik: oewereienaars behoort om algemene magtiging by die departement aansoek te doen indien enige werk binne die een-tot-100-jaar-vloedlyn óf 100 m van die rivieroewer geleë is.
“Sonder dié algemene magtiging word enige werk wat binne die parameter deur oewereienaars gedoen is, as onwettig beskou.”
Volgens Daniels sal die departement huiseienaars opsies bied om potensiële probleme uit te skakel wanneer hulle hul aansoeke indien.
Verskeie huiseienaars en sakelui het egter aan Daniels verduidelik dat die Spruitrivier-kwessies nie so eenvoudig is nie.
“As daar ’n stukkie oewer is wat binne my buurman se grens is wat intuimel, en hy doen niks wat dan toelaat dat die rivier geblokkeer word, veroorsaak dit skade aan ander eienaars se gedeeltes,” het een eienaar gesê.
In reaksie hierop het Daniels eienaars versoek om dit binne sewe dae by die departement aan te meld sodat noodmaatreëls getref kan word om dit reg te stel.
’n Ander kwessie was haweloses wat slaapplek in die rivier se sykanale inrig. “Daar is gevalle waar haweloses walle uitkalf en uitgrawe vir slaapplek. Wie se verantwoordelik is daai? Want dit speel ’n groot rol in gevalle waar skade veroorsaak is,” het Stephan Landsberg, ’n proporsionele raadslid gesê.
Daarop het Daniels gesê die departement het geen mandaat om mense wat geen heenkome het te verwyder nie. “Dis ’n maatskaplike probleem wat aandag benodig. Ek weet die gevolge van wat hulle doen het ’n impak op die mense wat belange in die Spruitrivier het. In so ’n geval kan die noodgeval-protokol in werking gestel word om skade te herstel.”
Hy glo pogings behoort eerder aangewend te word om te verhoed dat mense toegang tot die rivier se kanale kry.
Die munisipaliteit, wat op die vergadering deur Carel Lotz verteenwoordig is, het wel die afgelope jaar heinings op sommige van die rivier se brûe opgerig. Verskeie inwoners glo egter daar is ’n gebrek aan wetstoepassing en het opgemerk dat die hoof van wetstoepassing na regte die vergadering moes bywoon.
Daniels het toe aangebied dat oewereienaars hul klagtes skriftelik en direk aan hom kan stuur.
André Fourie, ’n munisipale raadslid vir die VF+, het opsommend gesê talle van die kwessies wat geopper is, is buite die departement se beheer.
“Die probleem is breedvoerig en benodig ’n holistiese benadering van die departement, munisipaliteit, oewereienaars en veral ook wetstoepassing in samewerking met mekaar.”
Indien ’n holistiese benadering nié gevolg word nie, glo Fourie die huidige kwessies sal voortdurend opduik.
Hy het voorgestel dat nog ’n vergadering tussen alle betrokke partye gehou word.




