Volgens die gemeenskap om Pelikaan Park-sportterrein word die geriewe erg deur vandale beskadig.

Credit: SYSTEM

Inwoners en mense in sportkringe is bekommerd oor die agteruitgang en toestand van Pelikaan Park in Wellington.

Dié sportfasiliteit is die afgelope tyd erg geraak deur vandalisme, en die Drakenstein-munisipaliteit doen na bewering glo niks hieromtrent nie.

Volgens ’n anonieme bron wat betrokke is by sport in die gebied is die vandalisme onder die aandag van die munisipaliteit gebring en is een sekerheidswag net nie genoeg om die fasiliteit op te pas nie, maar dit val op dowe ore.

“Eerste was dit die elektriese heining. Al wat hulle moes gedoen het, is om die afstandbeheertoestel te herprogrammeer. Dan was alles reg. Die vandale het toe die plek begin afbreek en die goed begin wegdra. Hulle het nou begin by die kaartjieskantoor by die hoofingang. Die bendes spring soms ook oor die muur en kom baklei hier binne op die sportterrein. Hier het al selfs ’n moord ook plaasgevind tydens ’n skolerugby-geleentheid.”

Gerald Esau, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê hulle het in 2021 die Pelikaan Park sportfasiliteit in ’n uitstekende toestand vir gebruik aan die breë gemeenskap toevertrou.

“Dit is egter individue, bendes en booswigte uit die omliggende gemeenskap wat die fasiliteit teiken vir inbrake en vandalisme, en só grootskaalse skade aanrig. Sportkringe se besorgdheid hieroor val nie op dowe ore nie. Die munisipaliteit het dit herhaaldelik onder die aandag van die sportlui gebring, en ons het verskeie versoeke aan hulle gerig om eienaarskap te neem van die fasiliteit.”

Esau voeg by dat die munisipaliteit elke voorval op meriete hanteer deur middel van hul interne versekeringsproses. Hulle hou ook die sekuriteitsmaatskappy verantwoordelik vir sommige van die voorvalle, waar van toepassing.

“Die bendes en booswigte in die onmiddellike omgewing is dikwels toegerus met messe, pangas en selfs vuurwapens. Dit beteken dat die verhoogde teenwoordigheid van sekuriteitswagte nie noodwendig die probleem sal oplos nie. Dit is dus noodsaaklik vir die publiek om te weet dat die munisipaliteit hul samewerking benodig om te verseker dat die fasiliteit in ’n goeie toestand bly vir optimale gebruik deur die gemeenskap.”

Esau moedig die gemeenskap aan om enige voorvalle van vandalisme by die polisie of by Drakenstein se wetstoepassingsafdeling by 021 807 5805 aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article