’n Menigte belanghebbendes in die sportkringe van Drakenstein is dit eens dat daar nóg langer vir die lang verwagte R60 miljoen-ontwikkeling van De Kraal gewag sal moet word – tog is dié sportgeriewe broodnodig in die vallei.
Paarl Post het verlede week berig oor klagtes van ’n oorbenutte krieketveld in Wellington en hierdie week word daar ook fokus geplaas op die vervalle toestand van die Weltevrede-sportterrein.
Alle oë is vir die afgelope paar jaar op die vordering van die beloofde sportfasiliteit wat volgens baie teen ’n slakkepas ontwikkel word.
Die Drakenstein-munisipaliteit het in 2018 aan Paarl Post gesê dat die ontwikkelingsplan van De Kraal uit vier fases sal bestaan, wat oor vier jaar ingestel word, met die boekjaar 2017-’18 wat die eerste jaar was.
Die ontwikkelingsplan van De Kraal is bedoel om die grond wat jare lank onbenut was tot sy volle glorie as sportkompleks te herstel.
Volgens die munisipaliteit is die nuwe De Kraal-sportkompleks geoormerk vir rugby.
Volgens Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, sal die breë publiek ook toegang hê tot ander aktiwiteite.
Die omheiningsmuur is reeds in die eerste fase gebou.
Volgens Esau is die ondergrondse dienste sowel as twee velde reeds aangelê. Die kaartjieskantoor is ook reeds gebou.
Volgens Esau was daar egter oor die jare wel uitdagings met die projek.
“Die aanvanklike kontrakteur se kontrak is gekanselleer as gevolg van nie-nakoming van spesifikasies,” het Esau gesê.
“Daar is geen verdere uitdagings buiten vertragings as gevolg van die weer nie.”
Dit is egter nie duidelik wat in die volgende boekjaar voltooi sal word nie.
Esau het wel genoem dat De Kraal ’n multijaarprojek is en dat die beplande voltooiingsdatum 2025 is.




