Twee bykomende nuwe kameras om spoedvrate in Wellington se strate vas te vat, gaan binnekort in die dorp geïnstalleer word.
Die aankondiging is onlangs gemaak op ’n verslagvergadering van WAG/Stop Misdaad, die Wellingtonse organisasie wat daarop toegespits is om ’n veilige, misdaadvrye Wellington te skep.
Die kameras, wat altesaam R38 000 kos, is aangeskaf deur een van die sekerheidsmaatskappye wat nou saam met Wag/Stop Misdaad werk. Dit sal op strategiese punte in die dorp geïnstalleer word en sal ook ingespan word om die polisie en almal wat betrokke is by die opspoor van gesteelde voertuie se taak makliker te maak.
Volgens die bestuur van WAG het die voorkoms van misdaadvlakke in Wellington begin stabiliseer danksy gereelde patrollies deur die lede van die organisasie en die nouer samewerking met die polisie op die dorp.
Daar word tans hard gewerk om die misdaadvlakke in die dorp in die toekoms beduidend te laat daal.
WAG gaan ook onverpoosd voort met sy gereelde skoonmaakprojekte in die dorp. Die organisasie beoog om binnekort ’n nuwe skoonmaakprojek in samewerking met die St. Albans-skool in die dorp te begin.




