’n Gereelde verskynsel op die Drakenstein-vallei se landelike paaie, soos onder meer die R44, R45 en R46, het Saterdagoggend nóg vier lewens geëis.
Paarl Post het al telkemale ondersoek na die infrastruktuur, padtekens- en -merke van roetes in die vallei ingestel. Dikwels lei dit tot die twyfelagtige gevolgtrekking van betrokke owerhede dat regulasies glo volgens maatreëls toegepas is.
Tog dra sommige roetes, soos die berugte R44, anders geken as “pad van die dood”, tot dodelike omstandighede vir padgebruikers by.
Ná ontelbare verslaggewing oor noodlottige gevalle op dié berugte roetes, is daar steeds inwoners en spoedvrate wat hoogs onverskillig op dié steiltes en blinde hoogtes jaag.
Dié dodelike tendens is nie net aan die gewone sondaars, soos trok-, bus- of taxibestuurders toe te skryf nie, maar ook plaasmense met hul 4×4’s, bakkies en luuksemotors kraai klaarblyklik koning!
Maar enige bestuurder wat doelbewus op stadige motoriste se agterente jaag, teen blinde steiltes ander verbysteek en bloot oorhaastig is om twee minute vroeër by hul eindbestemming te kom, is almal oor die jare skuldig aan die dood van onskuldige mense.
Die Drakenstein-munisipaliteit se verkeersowerheid is ook ’n skaars verskynsel op dié landelike paaie, wat juis meer padblokkades verg.



