Drie motoriste is die afgelope naweek in die Paarl weens roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem.
Twee van die drie het selfs nuttelose pogings aangewend om van die polisie te probeer vlug toe beamptes hulle voorgekeer het.
Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, sê die eerste 43-jarige verdagte is Vrydagmiddag deur polisie- en verkeersbeamptes in hegtenis geneem.
“Die verdagte is weens vermeende roekelose en nalatige bestuur op die Slentpad in Agter-Paarl in hegtenis geneem nadat hy beheer oor sy voertuig verloor het.”
Die tweede verdagte wat aangekeer is en reeds in die Paarl-landdroshof verskyn het, is die 20-jarige Lou-Charl Westraadt van Wellington.
“Westraadt is om 22:00 Sondagaand deur die Paarl-blitspatrollie in Dorpstraat weens vermeende roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem nadat hy glo probeer het om weg te jaag nadat hy na bewering aan ’n straatversnelren in Jan Van Riebeeckrylaan deelgeneem het.
“Hy het Maandag in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy moet weer op 20 September in die hof verskyn.”
Etlike ure later, om 00:15 Maandagoggend, is ’n derde bestuurder van Paarl-Oos ook in hegtenis geneem.
Du Plessis sê in dié geval is die 30-jarige bestuurder aangekeer nadat hy ook na bewering vir die polisie probeer wegjaag het.
“Die verdagte is vasgetrek kort nadat hy blykbaar probeer vlug het toe polisiebeamptes hom gevra het om langs die pad stil te hou. Hy is weens vermeende dronkbestuur in hegtenis geneem,” het Du Plessis gesê.
Volgens Du Plessis sal twee van die verdagtes ook binnekort in die Paarl-landdroshof verskyn.
- Paarl police and flying squad members performed three arrests over the weekend on charges of reckless and negligent driving on Friday, Sunday and Monday morning. In two incidents, the suspects apparently tried to unsuccessfully flee from police.


