Sowat 24 mense is beseer toe ’n Metrorail-trein Dinsdag 17 September by die Dal Josafat-stasie in die Paarl ontspoor het. Foto: Rasaad Adams


Terwyl Prasa sy treindienste tussen Kaapstad en Wellington hervat het, het ’n voorlopige ondersoek getoon probleme met instandhouding en spoed is van die moontlike oorsake waarom ’n trein Dinsdagaand 17 September by die Dal Josafat-stasie in die Paarl ontspoor het.

Die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) het dit verlede week in ’n voorlopige verslag ná die voorval bekend gemaak.

Volgens die RSR het probleme met die uitdraaispoor daartoe gelei dat die Metrorail-trein ontspoor het en 24 passasiers beseer is.

Drie mense is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.

Paarl Post het verlede week berig dat meer as 30 mense beseer is (volgens die koerant se nooddiensbron, wat op die toneel was).

Met Paarl Post se aankoms op die toneel kon die gehuil en geskree van beseerdes oor die hele stasie en platform heen gehoor word.

Reddingswerkers van die private en provinsiale sektor het tot omstreeks 20:00 gespook om minstens vyf mense wat in die wrak vasgekeer was, te red.

Die trein, wat van Kraaifontein na Wellington op pad was, was op die Transnet-vragspoor-netwerk en drie waens het ontspoor.

In die RSR-ondersoek is bevind die uitdraaispoor wat gebruik word om die rigting van die trein te verander (wisselaar), het effense skade aan die regterlem gehad, het Netwerk24 berig.

Dit het daartoe gelei dat die voorste passasierswa in een rigting beweeg het, en die een daarna het in ’n ander rigting gegaan.

Die ontsporing het gevolg nadat die waens in verskillende rigtings begin trek het.

Luidens die verslag is die redes vir die fout by die wisselaar nie onmiddellik bekend nie en dit kan moontlik te doen hê met instandhouding.

Die omvang van die skade dui volgens die RSR ook daarop dat spoed ’n rol kon gespeel het.

Die gedeelte tussen Kraaifontein en Wellington word nie outomaties beheer nie, maar treindrywers moet op gegewe punte wag vir mondelingse toestemming voordat hulle verder kan ry.

Keatlegile Godwill Malete, ’n RSR-woordvoerder, het gesê in sulke gevalle, soos wanneer sinjale nie werk nie, word treindrywers mondelingse opdragte en voorskrifte gegee oor wanneer hulle mag ry of nie.

“Die treindrywer moet byvoorbeeld voor ’n sekere punt eers wag op ’n mondelingse magtigingsnommer voordat hy by sekere gebiede kan ingaan omdat die treine net een op ’n keer hanteer kan word.

“Hulle bevestig dit weer wanneer hulle deur is, sodat ’n volgende trein kan ingaan,” het Malete Vrydag by navraag aan Netwerk24 verduidelik.

Die RSR sê in sy verslag in die lig van die bevindings gaan hy nou ’n ondersoekverslag van die operateur versoek en sal hy seker maak dat die nodige regstellende planne in werking gestel word.

Die verslag sal gefinaliseer word sodra die RSR-span die nodige inligting van die operateur ontvang en sy ondersoek afgehandel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article