In my amptelike hoedanigheid as Speaker en voorsitter van die munisipale raad wil ek konteks verskaf na aanleiding van twee berigte in 7 Desember se Paarl Post.
. 1. “Beweerde klagtes teen die uitvoerende burgemeester”
Die hantering van die klagtes word voorgeskryf volgens ’n proses soos vervat in die gedragskode vir raadslede. Sodanige proses eindig met ’n raadsbesluit nadat ’n onafhanklike tugkomitee sy bevinding en aanbeveling voorgelê het. Die munisipale hantering van die aangeleentheid kom dan tot ’n einde en die munisipale raadsbesluit word aan die minister van plaaslike regering deurgee.Indien enige inligting oor klagtes of getuies vooraf met die raad of die media gedeel word, kan dit die raad in sy besluitneming beïnvloed of tot viktimisering van getuies lei.Ons het nie hier te doen met ’n gebrek aan deursigtigheid nie, maar ’n beskerming van die geloofwaardigheid van ’n proses sodat ’n tegniese verweer nie op die bevinding van die komitee gebring kan word nie. Aansluitend hierby is die kwessie van die betaling van regskoste. My kantoor beskik oor ’n raadsdelegering om regskostes van ’n burgemeester goed te keur. Derhalwe moes ek besluit of die klagtes handel oor die amptelike uitvoering (of nie) van verantwoordelikhede van die burgemeester, en indien wel, hoe verreikend gevolge kan wees vir beide die betrokkene en die Drakenstein-munisipaliteit. Om hierdie rede het ek beslis dat die geloofwaardigheid van die proses voordeel sal trek indien ’n regskundige die saak vir die verdediging van die beweerde klagtes hanteer. Na my mening sal dit ook ’n meer ewewigtige bydrae tot die potensiële impak op die munisipaliteit lewer en so ook die moontlikheid van prosedurele verwere verminder.Ek kan in hierdie stadium nog nie op die meriete van die klagtes reageer nie en wens net te meld dat ’n volledige verslag by geleentheid vir deursigtigheid aan die raad voorgelê sal word, wanneer die onafhanklike komitee sy aanbevelings doen.
. 2. “Grief ingedien teen ander hoë amptenaar”
Hier het ons te doen met ’n formele grief wat volgens ’n regverdige en voorgeskrewe prosedure hanteer moet word. Hierdie is ’n bevinding wat gemaak moet word deur die verantwoordelike griefhanteerder nadat ’n geleentheid gebied is om beide kante se weergawe aan te hoor, en om, indien moontlik, te bemiddel in die belang van die munisipaliteit. Neem ook kennis dat die klaer intussen aan die proses onttrek het en dié interne proses nou afgehandel is.
Koos le Roux, DM speaker,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article