Die Drakenstein- munisipale raad se Speaker het te midde van “geen bewyse” die ondersoek na beweerde wanadministrasie, wat verlede jaar teen Conrad Poole gebring is, laat vaar. Dié aankondiging is gemaak etlike dae nadat Poole deur ’n wantrouemosie as uitvoerende burgemeester verwyder is.
Opposisiepartye sê intussen hulle kan nie help om die toeval van hierdie aankondiging te bevraagteken nie en meen dat die Speaker bloot ander DA-raadslede probeer beskerm wat moontlik by die bewerings betrek kan word.
Koos le Roux, die Speaker, het Sondag (3 Maart) in ’n verklaring gesê nadat die bewerings – dat lede van Poole se burgemeesterskomitee glo betaal het vir posisies – sy kantoor in Augustus verlede jaar bereik het, kon die ondersoek tot nou geen bewyse of getuienisse lewer nie.
Poole is in 2016 tot uitvoerende burgemeester verkies.
“Sedert die begin van die ondersoek het raadslid Poole sy volle samewerking gegee, wat aangedui het dat hy daartoe toegewyd was om sy naam skoon te kry en sy onskuld te bewys.
“Ek wil dit kategories stel dat daar gedurende hierdie ondersoek geen bewyse na vore gekom het om hierdie bewerings te staaf nie. Ek is tot hierdie amp verkies deur ’n party wat verbind is tot die oppergesag van die reg en glo dat almal die reg het om as onskuldig beskou te word totdat hulle op grond van vaste bewyse skuldig bevind word,” het Le Roux in die verklaring gesê.
Hy het bygevoeg dat Poole se “regte, soos beskerm deur die wet, nie deur ongegronde gerugte beswadder moet word nie”.
Keagen Gertse, raadslid van die GOOD-party, wat in Augustus verlede jaar aangedring het dat Le Roux die sogenaamde “betaal-vir-werk”-skema moet ondersoek, sê sy party is onkant betrap deur die Speaker se beslissing.
“ ’n Onafhanklike regsfirma is in Oktober verlede jaar aangestel om die bewerings te ondersoek, wat toe wel bewyse gevind het dat Poole sekere gedragskodes vir raadslede oortree het.
“Ons sukkel dus om te verstaan hoe die Speaker nou skielik die ondersoek laat vaar. Wat het dan van hierdie bewyse deur die regsfirma geword?” wou Gertse weet.
Hy sê Le Roux probeer bloot ander DA-raadslede, wat kop in een mus met Poole was, beskerm.
“Met die geslaagde wantrouemosie dink ons die DA het besef dat hul posisie, veral vanuit ’n openbare oogpunt, werklik skade aangedoen is.
“Die Speaker is heel bewus indien hierdie bewerings behoorlik getoets word, kan dit beteken vele ander DA-raadslede sal vir onreëlmatighede ondersoek moet word – iets wat die DA-koukus nie nou kan bekostig nie.”
Hy sê GOOD sal daarop aangedring dat die ondersoek voorgesit moet word.
“Ongeag die feit dat hy nie meer die uitvoerende burgemeester is nie, is hy steeds ’n raadslid en gebonde aan die gedragskode vir raadslede. Hy sal nie so maklik van hierdie ernstige oortredings vrygespreek word nie.”
Die VF Plus in Drakenstein is dit eens met die GOOD-party dat hulle druk op die Speaker sal plaas om duidelikheid te gee oor hoekom die aankondiging nie vroeër gemaak is nie.
“Ons standpunt van die begin was indien ’n betaal-vir-werk-skema wel bestaan het, is dit nie net die burgemeester wat moet antwoord nie, maar ook diegene op sy komitee wat vir poste betaal het.
“Dit sal ook beteken dat daar moontlik raadslede in die DA-koukus is wat van die begin af bewus was van die sogenaamde skema, maar niks daaromtrent gedoen het nie,” het André Fourie, ’n VF Plus-raadslid, aan Paarl Post benadruk.
Fourie sê hulle gaan aandring op ’n verduideliking vir die “skielike sluiting” van die ondersoek.
“Ons gevoel is hulle het besef indien Poole voor daai komitee skuldig bevind word, gaan dit ’n rimpeleffek veroorsaak en een groot dilemma vir die DA wees.”
Poole is Woensdag 28 Februarie op ’n raadsvergadering deur ’n wantrouemosie as uitvoerende burgemeester verwyder, toe 34 uit die 62 raadslede vir sy verwydering gestem het.
DA-raadslede was onder die 34 wat teen Poole gestem het.
Gert Combrink, die adjunkburgemeester, neem intussen in Poole se plek waar totdat ’n nuwe burgemeester aanstaande Woensdag (13 Maart) verkies sal word.





