Ná ’n drie jaar lange “droogte” weens die Covid-19-pandemie, is die organiseerders en borge verheug om aan te kondig dat die SPAR vroue-uitdaging weer in lewende lywe gehou sal word.
Die geleentheid vind op Sondag 23 April in Kaapstad plaas.
Die stad se vroue sal Suid-Afrika se “mooiste” wedloop met mede-deelnemers in Groenpunt en omgewing kan geniet. Vroue sal in hul duisende aantree by die wegspring, wat naby die Kaapstad-stadion is, vir die 10 km-draf of -stap, of die 5 km-pretdraf. Die regstreekse wedloop sal ook ’n virtuele komponent hê, wat deelnemers kan hardloop, draf of die afstand van hul keuse kan stap, teen hul eie pas.
Die tema vir vanjaar se SPAR Vroue Virtuele Uitdaging is #ItsPersonal, met die onderliggende boodskap van bymekaarkom, saam hardloop en mekaar ondersteun, hoe jy ook al verkies.
Inskrywings is aanlyn oop by www.sparwomensrace.co.za
Dit kos R150 om in te skryf. Dit sluit ’n toegangspak met ’n SPAR T-hemp, ’n keps, medalje, tydskrif en lekkernye in – alles verpak in ’n aantreklike herbruikbare sak. Getalle is beperk tot 14 000, so deelnemers word aangemoedig om hul inskrywings gou in te kry om dit nie mis te loop nie.
Die SPAR Women’s Challenge het nog altyd ’n liefdadigheidsaspek gehad. SPAR is trots daarop om hul waardes van gesin, passie en entrepreneurskap uit te leef en voel sterk dat elke meisie die reg op ’n opvoeding het. Vir elke inskrywing wat ontvang word, sal SPAR ’n pak sanitêre doekies skenk, wat via die Petals Project in vennootskap met verskeie liefdadigheidsorganisasies oor die land heen versprei sal word.
Vanjaar gaan hulle ook aan Operation Smile SA skenk. Deur deel te neem help deelnemers om die lewe te verander van kinders wat met gesplete lippe en verhemelte gebore is en wat nie toegang tot mediese behandeling het nie.


