Die SPAR Virtual Challenge word Saterdag 3 September gehou, en vanjaar span die gewilde uitdaging, wat veral op vroue gemik is, met Parkrun SA saam.
“Ons is baie opgewonde dat die SPAR Virtual Challenge met Parkrun saamgespan het! Deelnemers sal op 3 September ’n veilige ruimte hê om saam met vriende of familie te hardloop,” het Elsabe van Zyl, advertensiebestuurder van SPAR Wes-Kaap en Namibië, gesê.
Die Parkrun-item begin stiptelik om 08:00 en deelnemers word aangemoedig om minstens 15 minute voor die wegspring aan te tree.
Die Paarl-parkrun begin by die hoofingang van die Arboretum, in Franschhoek by die Richerty Bridge-landgoed en in Wellington by Imbuko-wyne.
Parkrun is tradisioneel slegs ’n 5 km- stap- of drafroete, maar op die dag van die SPAR Virtual Challeenge kan jy, as jy wil, die 5 km-roete twee keer aanpak om die 10 km-afstand te voltooi.
Die SPAR Virtual Challenge sluit by die stigter van Parkrun SA, Bruce Fordyce, se droom aan om 200 defibrillators te voorsien. Defibrillators het wêreldwyd al baie lewens gered. Elke defibrillator kos sowat R20 000 en die doel is om R4 miljoen in te samel, en SPAR sal vir hierdie saak bydra.
Ook, vir elke inskrywing wat vir die uitdaging ontvang word, sal SPAR ’n pak sanitêre doekies vir ’n skoolmeisie in nood skenk. “Ons hou absoluut steeds ons meisies by die skool deur ’n pak sanitêre doekies vir elke SPAR Women’s Virtual Challenge-inskrywing aan meisies in nood te skenk,” het Van Zyl bygevoeg.
Inskrywings vir die SPAR Virtual Challenge kos R120, wat ’n prettige trekkoordsak, ’n T-hemp, ’n buff, piekpet, medalje en ’n gedrukte tydskrif insluit. Toegang tot die parkrun is gratis, en bied slegs ’n veilige venue, asook ’n tydsbepaalde 5 km-roete. Jy moet vir die SPAR Virtual Challenge inskryf en vir die parkrun registreer.
Om in te skryf, gaan na https://sparvirtualchallenge.co.za . Vroue onder die leiding van die plaaslike langafstandatleet en fiksheidsintrukteer Sandra Nel van Fitness Fuzion word genooi om aan die Spar Virtual Challenge by die Paarl-parkrun deel te neem.


