Hierdie pleidooi rig ek aan die Drakenstein-munisipaliteit met betrekking tot die gevaar wat bome in die noordoostelike hoek van Orleanspark en westelike eindpunte van Magnolia- en Strelitzia-straat en deels begrens deur Van der Stelstraat in Paarl-Oos vir mense en voertuie inhou.
Eersgenoemde bome met reeds erg ontblote wortels staan teen die wand van ’n kanaal wat deur die park vloei.
Indien een van daardie bome omwaai, sal dit gewis beserings, dood, en groot skade tot gevolg hê aangesien dit oor al vier bane en moontlik op ’n deel van die Paarl-Oos-polisiekantoor kan val.
Ek het ’n soortgelyk geval ook in Augustus 2018 aangemeld. Daardie boom is dieselfde dag afgesaag.
Die ander bome is ongetwyfeld ook ’n gevaar vir mense en voertuie aangesien twee van daardie bome deur die stormwind van 2023 ontwortel is en omgewaai het.
Daardie bome staan aan die eindpunt van Magnolia-straat waar die busse vroeër jare gedraai het. Dis ’n kortpad vir baie van ons skoolkinders en werkers na skole en werksplekke.
Sou van daardie bome aan die oostekant van Van der Stelstraat ontwortel word, sal dit oor twee bane van die pad val.
Ek besef goed dat die pad nie ’n wandelpad is nie, maar pleit vir die verwydering van alle bogenoemde bome.




