Die Drakenstein-munisipaliteit se burgemeester, Conrad Poole, asook die provinsiale minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het die afgelope Vrydag die eerste sooi vir ’n nuwe behuisingsprojek in Simondium gespit.
Volgens Simmers sal die behuisingsprojek oor die volgende drie jaar 384 huise aan inwoners in en om Simondium besorg.
Dit sal die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur en die Drakenstein-munisipaliteit R77 miljoen kos, met albei entiteite wat elkeen 50% sal bydra.
Die ASLA-groep, wat as kontrakteurs optree, het reeds die afgelope Maandag met die ondergrondse bouwerk begin, wat onder meer die voorbereiding van die grond en aanlê van waterpype insluit.
Volgens Poole is hierdie behuisingsprojek reeds van sy eerste termyn in 2016 ’n doelwit, en is beoog om dit twee jaar gelede van stapel te stuur, maar weens die Covid-19- pandemie en ander oponthoude het dit eers nou – twee jaar later, ná sewe jaar – ’n werklikheid geword.
Simmers het verduidelik dat die 384 huise van verskillende groottes sal wees om sodoende verskillende gesinne te huisves, met ’n paar wat ook rolstoel-vriendelik sal wees.
Die grond waarop die behuisingsprojek ontwikkel word, is van die Fair Cape-suiwelprodusente gekoop.
“Met die sooi wat gespit is, sal die aangestelde kontrakteur nou begin met die installering van grootmaat- siviele infrastruktuur.
“Ons verwag verskeie werksgeleenthede sal vir klein, medium en mikro-ondernemings gedurende die boufase van die projek geskep word,” het Simmers gesê.
Hy het ook verduidelik die huise sal ten volle gesubsidieer wees wanneer dit oorhandig word en aan diegene oorgegee word wat as belastingbetalers kan bydra.





