Inwoners van Smartietown het Sondag gestaan en toekyk hoe polisielede die toneel waar ’n tiener en 23-jarige man doodgeskiet is, fynkam.Foto: Edgar J. Petersen


Die Paarl-Oos-polisie is opsoek na die verdagtes wat betrokke was by ’n skietvoorval wat gistermiddag (Sondag) ’n tiener en 23-jarige man se lewens in Smartie Town, Paarl-Oos geëis het.

Polisiewoordvoerder, kapt. Basil Seekoei, het aan Paarl Post bevestig dat die polisie omstreeks 16:00 by Monicastraat in Groenheuwel, Paarl-Oos, aangemeld het om ’n moordtoneel vir leidrade te fynkam.

“Met hul aankoms het polisielede twee liggame, die van ’n 23-jarige man sowel as 15-jarige seun, wat nie ver van mekaar af gelê het nie, gevind.

“Albei is met skietwonde aan die bolyf aangetref.”

Seekoei sê albei is op die toneel dood verklaar en dat die name van die oorledenes eers bekendgemaak sal word ná ’n formele uitkenning gedoen is.

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en die motief is in hierdie vroeë stadium van die ondersoek onbekend,” voeg hy by.

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om die ondersoekbeampte, speurder sers. Jacobs by Paarl-Oos-speurders te kontak by 021 877 5916 of Crime Stop by 08600 10111 of My SAPD-selfoontoepassing.

Seekoei sluit af dat alle inligting vertroulik hanteer sal word en dat informante anoniem hanteer sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article