Frik van Jaarsveld flous kwaaddoeners op sy elektriese bromponie terwyl hy oor ’n dodelike geheime wapen beskik.Foto: Heleen Rossouw


Gevalle van onmiddellike karma in reaksie op diefstal in Wellington en Paarl het die afgelope maand bewys wat gebeur wanneer slagoffers die oorhand oor hul aanvallers kry.

Die ou slagspreuk “oud maar nog nie koud” laat nie aan ’n bittereinder soos Frik van Jaarsveld reg geskied nie.

Dié 75-jarige militêre veteraan van Wellington het verlede week sy aanvaller, wat hom op sy elektriese bromponie aangeval het, ore aangesit.

“Ek is ’n ou man wat elke dag met my scooter na Leather Academy in Industrialstraat werk toe ry en ná werk weer huis toe.”

Maar dié middag (3 Februarie) het ’n aanvaller Van Jaarsveld om die hoek van 2de Laan, sowat 1,5 km van sy huis af, van agter af probeer gryp.

“Vrydagmiddag omstreeks 16:00, toe ek met my scooter by 2de Laan van Piet Retief-rylaan wou inry, het ’n man my van agter probeer gryp en gevra ‘waar is jou gun’?”

Van Jaarsveld voeg by dat verdagtes oor die algemeen goed bewus is dat geteikende slagoffers hulself met wapens beveilig.

“Hy het sy hand in my baadjiesak gesteek en my beursie uitgeruk.”

Dit het vir Van Jaarsveld gelyk of die verdagte nóg iets wou sê, “maar toe bloei hy en die verdagte het besef hy beter weghardloop”, sê hy, tong in die kies.

“Ek het my flick-mes uitgepluk en hom gesteek. Hy wou my nog met ’n skêr bykom, maar my terugveg het hom die skêr laat val.

“Ek het niks oorgekom nie. Ek dra altyd my mes by my en ek is in selfverdediging opgelei toe ek tussen 1965 en 1983 as jonger man en kommandeur in die vloot gedien het.”

Ongelukkig is sy beursie met “min” kontant gesteel, maar sy ID-boekie was uiteraard ’n lastige verlies.

Maandag, net ná die naweek, het ’n vrou wat in 2de Laan woon Van Jaarsveld gekontak.

“Sy het ’n man met ’n rugsak in haar erf se kringtelevisie gesien. Hy was duidelik met bloed bevlek! Toe hy besef sy sien hom raak, het hy weggehardloop en sy rugsakkie agtergelaat.

“My beursie met als, behalwe die geld, was daar. Dit was wel bietjies te laat, aangesien ek reeds aansoek om ’n nuwe ID-kaart ingedien het.”

Hy glo dat om ’n saak by die polisie aan te meld nie veel vrugte sou dra nie. Van Jaarsveld meen hy kon eiereg gebruik.

“En só word die aanvaller toe die slagoffer,” verkondig die brawe man met trots.

Bok spring in aksie

Die skermgreep van Boer And Butcher in die Paarl het die oomblik toe Jean de Villiers die dief agternasit, vasgevang.Foto’s: Verskaf

Enkele dae tevore het Jean de Villiers, Paarl se oud-Springbok-rugbyspeler, ook ’n onderduimse dief in die strate van Paarl af gejaag.

Dit nadat die verdagte op kringtelevisiebeeld vasgevang is hoe hy produkte van die rakke by The Boer And Butcher in Kasteelstraat afhaal en in ’n sak steek.

“Ek het in die gang af gestap op pad na die till, ek kyk links en dit wil vir my toe lyk asof dié ou iets in sy sak sit wat oor sy skouer gehang het,” beskryf De Villiers die oomblik toe dié dief Maandag (23 Januarie) op sy radar beland het.

“Soos ek my goed betaal, begin ek die ou dophou sonder dat hy dit besef. Ek sien toe hy loop, kyk rond, steek goed in sy sak . . . loop weer, kyk rond en druk weer goed in sy sak.”

Toe, meen De Villiers, was die gort gaar.

“Hy het stadig begin om by die winkel uit te loop, en ek loop toe ook stadig agter hom aan. Ons kom buite en toe ek nader aan hom is, toe sê ek net ‘hey!’, en dít is toe die man begin hardloop.

“Ek het vir myself gesê dit is nou tyd om te hardloop.”

De Villiers het só agter die verdagte aangehol dat hy skoon sy plakkies en bril vooruit hardloop.

“Eventueel is hy oor die pad daar na Binnelandse Sake toe waar daar uiteraard ’n lang tou mense buite staan. Die mense wat ook uit die winkels kom, sien hoe ek agter hom aan zig-zag en het begin skree.”

Maar toe die verdagte om ’n motor wou verbysteek, het ’n ander man wat daar gestaan het die verdagte met een stamp platgeslaan.

’n Rukkie later het De Villiers die verdagte na die winkel teruggeneem waar hy goedere in sy sak gesteek het.

“Ek was basies by die dief, die ander ou stamp hom toe om, en toe het ek hom!”

Dit is verhale soos dié wat dapper mans soos Van Jaarsveld en De Villiers as legendaries in die vallei laat voortleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article