Die Wemmershoek-afvalwatersuiweringsaanleg buite Franschhoek. Foto: Rasaad Adams


Die Stellenbosch-munisipaliteit het gesê fase twee van sy opgradering van die Wemmershoek-afvalwatersuiweringsaanleg buite Franschhoek is onder meer daarop gemik om klagtes oor geraasbesoedeling, onaangename reuke en algemene prosesverbetering aan te pak.

Die aanleg, wat aan die rand van die Wemmershoek-gemeenskap geleë is, is al lank ’n omstrede projek waarteen plaaslike burgerregtegroepe oor die jare kapsie gemaak het.

Een van hulle is die plaaslike Concerned Wemmershoek Residents-groep, wie se voorsitter, Isaac Davids, aan Paarl Post gesê het daar is al voorheen beloftes gemaak dat die probleem van veral die stank aandag sal kry, maar dit dan nooit realiseer nie.

“Hierdie probleem is in 2022 op ’n vergadering aan munisipale amptenare geopper, wat in daardie stadium belowe het dat die stank aandag sal geniet.

“Ons het egter steeds jaar ná jaar die probleem. Dit is veral erg in die somer. Daai aanleg lok brommers en allerhande peste na ons omgewing.

“Wat ons eintlik meer pla, is die feit dat so ’n aanleg, en nou die opgradering en moontlike verbreding daarvan, vir ’n woonbuurt goedgekeur is. Dit hoort nie hier nie,” het Davids gesê.

Oor die fase-twee-opgradering het Isaacs beweer die Stellenbosch-munisipaliteit versuim om openlik te kommunikeer oor wat presies die opgradering gaan behels.

“Daai aanleg is geleë reg langs ons sportterrein. Ons sukkel reeds met ordentlike geriewe vir sport en ontspanning. Die munisipaliteit het nog nie vir ons gesê of die aanleg groter gemaak gaan word nie en dit dan gaan beteken dat ’n deel van die veld vir daardie doeleindes gebruik gaan word nie.”

Hierdie opgraderings is van kardinale belang om ons fasiliteite te verbeter en te verseker dat ons ons gemeenskappe in die toekoms doeltreffend kan bedien.
Stuart Grobbelaar, Stellenbosch-munisipaliteit

Die Stellenbosch-munisipaliteit het egter by navraag Davids se bewerings verwerp dat klagtes oor die stank nooit aandag geniet het nie.

“Ons ondersoek elke voorval wat by ons aangemeld word deeglik, en dit is belangrik om te beklemtoon dat byna al die klagtes oor hierdie saak van dieselfde mens af kom.

“Die onlangse voltooiing van fase een van die opgradering van die aanleg het sommige bekommernisse rakende die reuk aangepak, en die beplande fase-twee-opgradering – wat tans in die vroeë stadiums van konstruksie is – sal spesifiek geraas-, reuk- en toerusting- en prosesverbeterings aanpak.

“Hierdie projek was deel van ons geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) en begrotingsbesprekings vir verskeie jare, en openbare inligtingsessies is gehou om die gemeenskap op hoogte te hou.

“Hierdie opgraderings is van kardinale belang om ons WWTW-fasiliteite te verbeter en te verseker dat ons ons gemeenskappe in die toekoms doeltreffend kan bedien,” het Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, by navraag gesê.

Volgens Grobbelaar bedien hierdie aanleg beide die Wemmershoek- en Franschhoek-gebiede.

Die munisipaliteit het altesaam R80 000 000 vir die volgende drie finansiële termyne vir die volledige opgradering van die aanleg begroot.

Die munisipaliteit sal R30 000 000 afsonderlik in die 2024-’25- en 2025-’26-boekjaar begroot en dan weer R20 000 000 in 2026-’27.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article