Beurtkrag het ongelukkig deel van ons daaglikse lewe geword, en om te keer dat die bloeddruk op ’n daaglikse basis hieroor styg, probeer die publiek grootliks vrede maak met die daaglikse skedule wat hulle kry.
Dus was Paarliete Donderdagoggend briesend toe erg van hierdie skedule afgewyk is. Nie net dit nie, die krag het van kort ná 06:00 die oggend, toe beurtkrag vir twee ure moes intree, kort-kort afgeskakel en sekondes later weer aan. Dit het so drie keer aan- en afgegaan voordat dit vir ’n driekwartier beurtkrag was – ’n algehele afwyking van die vlak 3-beurtkragskedule vir die dag.
Later die oggend het die Drakenstein-munisipaliteit op talle klagtes hieroor gereageer en gesê die rede was dat hulle Woensdagaand reeds ’n versoek van Eskom en die Wes-Kaapse regering ontvang het om ’n noodvoer aan die Paarl-hospitaal te verskaf tydens Woensdagaand se geskeduleerde Eskom-beurtkrag tussen 22:00 en 00:30. Dit was om die elektrisiteit by die Paarl-hospitaal aan te hou, waar ’n kragopwekker onklaar was.
Dit het beteken ’n sekere deel van die Paarl sou dus nie Eskom-beurtkrag ervaar nie.
Volgens die munisipaliteit het Eskom ook Donderdagoggend tydens die geskeduleerde beurtkraggleuf van 06:00 tot 08:30 herhaal toe die Paarl se krag tot net ná 07:00 aangehou is. Toe het ’n fout op die Eskom-lyn daartoe gelei dat die krag na die dorp afgesny is. Die krag het net ná 08:00 weer op skedule gekom.
Maar hoe werk die beurtkrag-skedule en wie maak eintlik die besluite?
Die proses is gedesentraliseer. Dit beteken nie net een mens sit in ’n beheerkamer en staan gereed om ’n groot skakelaar af te trek elke keer as beurtkrag aangekondig word nie. Die mag – of gebrek daaraan – word eintlik in die hande van munisipaliteite en hul amptenare geplaas.
Ses stappe moet gevolg word om hierdie onderbrekings af te dwing:. Eskom gee die opdrag aan ALLE munisipaliteite en sê hulle moet “aan die voorgeskrewe beurtkragvereistes voldoen”.. Diegene in die topkantore van elke onderskeie munisipaliteit moet dan besluit waar, en wanneer, hulle die prop moet uittrek.. Munisipaliteite – veral die groteres – sal dan hul gebiede in “blokke” verdeel, en elke groep ’n spesifieke tyd sonder krag toeken.. Elke blok kry dan ’n spesifieke kode, wat hul beurtkragpatroon uniek identifiseer.. Munisipale amptenare publiseer dan hul tabelle, sodat inwoners weet wanneer hul ligte af gaan wees.. Hierdie tafels word gereeld verander, sodat een blok nie permanent met een spesifieke beurtkraggleuf sit nie.




