Die plaaslike behuisingswaglys en wanneer wie huise kry is oor die jare altyd ’n kwelpunt vir baie inwoners – dikwels diegene wat voel hulle word onregverdig behandel of dat hulle te lank wag vir ’n huis van hul eie.
Paarl Post het by Drakenstein-munisipaliteit uitgevind hoe die behuisingswaglys werk en wat die kriteria is wat die munisipaliteit volg.
Volgens Jacqui Samson, die uitvoerende direkteur van beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings by die munisipaliteit, moet mense wat vir gratis staatsgesubsidieerde huise in aanmerking kom aan die volgende minimum vereistes voldoen:
. Getroud wees (saamleefmaats kwalifiseer ook);
. Indien enkellopend, moet die persoon finansiële afhanklikes hê;
. Die huishoudelike inkomste moet nie meer as R3 500 per maand wees nie;
. Moet ’n Suid-Afrikaanse burger wees; en
. Moet ’n eerste huiseienaar wees.
“Ingevolge Drakenstein-munisipaliteit se toekenningsbeleid word geleenthede in nuwe behuisingsprojekte toegeken volgens die 60 / 20/ 20-beginsel. Dit kom daarop neer dat 60% van geleenthede geselekteer word uit die algemene waglys, 20% uit spesiale behoeftes en 20% uit landelike inwoners – almal volgens die datum van aansoek, met ander woorde die vroegste datum kry voorkeur,” verduidelik Samson.
Volgens haar werk die toekenning van huise anders met informele nedersettings, veral wanneer projek-opgraderings gedoen word.
“Die groot verskil tussen die twee benaderings met betrekking tot begunstigdes is die feit dat in informele nedersettings daar reeds mense woon. Wanneer informele nedersettings dus opgegradeer word, sal die begunstigdes dus noodgedwonge van die informele gebied wees aangesien hulle reeds op die grond is. Ten einde ’n huis te bekom, sal hulle egter nog steeds moet kwalifiseer ingevolge die subsidie-kriteria.”
Tans is die Vlakkeland-behuisingsprojek die enigste projek in Drakenstein wat ontwikkel word.
“Verskeie ander projekte waaronder Simondium, Paarl-Oos, Erf 557 (Mbekweni) en Saron is op verskeie vlakke van beplanning. Die implementering van hierdie projekte is grootliks afhanklik van die verkryging van die nodige ontwikkelingsregte, sowel as die nodige finansiering van die regering om die projekte te laat realiseer.”
Finansiering vir behuisingsprojekte word deur die Wes-Kaapse regering beskikbaar gestel, wat die geld van die nasionale regering ontvang. Die munisipaliteit tree volgens Samson meesal as implementeringsagent op.
“Voornemende behuisingsaansoekers word aangemoedig om Drakenstein-munisipaliteit se behuisingskantoor te Paarl-Oos te besoek ten einde die nodige aansoek te voltooi. Amptenare sal die nodige kwalifiserende kriteria aan voornemende aansoekers verduidelik.”
Samson verduidelik ook dat mense met ’n huishoudelike inkomste tussen R0 en R22 000 per maand kan aansoek doen om laekoste- tot bekostigbare behuising. Slegs diegene wie se huishoudelike inkomste minder as R3 500 per maand is, sal egter in aanmerking kom vir gratis staatsgesubsidieerde behuising.
“Persone wat reeds in die databank is, word aangemoedig om gereeld navraag te doen oor die status van hul aansoeke, asook hul persoonlike inligting en kontakbesonderhede op te dateer sou dit verander. ’n Gereelde probleem wat die munisipaliteit ondervind, is dat mense nie hul persoonlike inligting in die databank, veral in gevalle waar hulle van adres verander het, opdateer nie. Dít veroorsaak dat hulle nie opgespoor kan word nie, wat daartoe kan lei dat hulle oorgeslaan word wanneer dit by hul beurt kom om geholpe te raak,” het Samson gesê.




