Slegs twee dae ná sy verkiesing op 5 April vanjaar as die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, was hy reeds in die diep kant ingegooi toe stormweer verwoesting oor groot dele van die munisipaliteit gesaai het – een van vele krisisse wat Stephen Korabie in sy eerste 100 dae as eerste burger moes bestuur.
Paarl Post het vandeesweek by Korabie se kantoor gaan draai om te reflekteer op van die hoogtepunte sedert hy die burgemeesterstoel ingeneem het.
Korabie het die leisels in April by Conrad Poole oorgeneem, wat in ’n wantrouemosie deur die raad verwyder is.
Dit was juis die omstredenheid rakende Poole se termyn en bewerings dat sy burgemeesterskomitee vir poste moes betaal, wat verdere druk op Korabie geplaas het om die raad se naam in ere te herstel.
Daar was in daardie stadium ’n algemene verwagting van die publiek dat hy ’n splinternuwe burgemeesterskomitee sou aanstel nadat die bewerings dat Poole hierdie skema uit sy komitee bedryf het, nooit behoorlik ondersoek is nie – soveel so dat daar toe nooit weer sprake van die bewerings in enige raadsvergadering ná Poole se verwydering was nie.
Korabie het vandeesweek gesê hy was altyd bewus van die belangrikheid daarvan om ’n nuwe era van leierskap vir die Drakenstein se bring.
Die verwydering van Poole se burgemeesterskomitee sou volgens hom egter in daardie stadium nie ’n wyse politieke besluit wees nie.
“Onthou, ons het ’n verkiesing op 29 Mei gehad. Ons moes stabiliteit binne die munisipaliteit handhaaf om onsself op die verkiesing voor te berei.
“Dit sou onwys wees om kort voor ’n verkiesing self onstabiliteit te skep binne ’n munisipaliteit waar die raad reeds verdeeld is. Die aanstelling van ’n nuwe komitee sou ook net tot ’n klomp vrae gelei het, en in daardie stadium was daar nie tyd om dit te beantwoord nie.”
Hy het ook benadruk dat die bestaande burgemeesterskomitee ’n ervare groep was en daar nie tyd is om nuwe lede op te lei in die aanloop tot die plaaslike verkiesing in 2026 nie.
“Jy het omtrent nege maande nodig om ’n nuwe mayco op te lei. Hier het ons gesit met mense met institusionele kennis,” het hy sy besluit verdedig.
Oor die verskeie weerverwante krisisse wat die munisipaliteit sedert die begin vanjaar getref het, het Korabie gesê “dit het tyd geword” dat die munisipaliteit gaan herbesin oor hoe hy hom vir noodtoestande voorberei. Hy en ander munisipale amptenare was op 9 Julie in die nagtelike ure op die wal van ’n plaasdam naby Newton wat weens die swaar neerslae begin oorstroom het.
’n Besluit moes inderhaas geneem word om Newton te ontruim.
“Ek kon voel hoe die dam se wal onder my voete vibreer. Ek moes in daardie oomblik ’n besluit neem om die verlies van lewe te voorkom.
“Hoewel die dam op private eiendom is, is die veiligheid van ons inwoners ’n verantwoordelikheid van die munisipaliteit. Ons het toe spesialiste ingekry en die departement van water en sanitasie is ook betrek.”
Die dam is intussen veilig verklaar.
Korabie het benadruk dat hierdie natuur-verwante krisisse nuwe perspektief gegee het vir ’n hersiene noodplan wat hy hoop om eersdaags finaal goed te keur.
Afvalbestuur en onwettige vullisstorting is ’n ander pertinente kwessie wat Paarl Post aan die burgemeester geopper het.
Korabie het erken die munisipaliteit ervaar verskeie uitdagings in hierdie verband.
“Dele van Drakenstein is vuil en morsig. Ek maak geen geheim daarvan nie en is nie skaam om dit te noem nie.
“Ons blameer die inwoners vir hoekom die omgewing so lyk, maar wat doen ons om te voorkom dat hulle vullis oral stort?
“Waar het jy gehoor jy sit ’n vullishoop in die middel van ’n woonbuurt? Wat dink jy van die mense wat daar woon?” het hy gevra toe hy verwys na afvalbestuur by die munisipale woonstelle in Paarl-Oos.
Korabie het gesê hy is in ’n stryd om hierdie “vullishope” met ’n meer doeltreffende alternatief te vervang.
“As ek daai vullishope vat en dit in die middel van Val de Vie gaan sit, kan jy dink watter bohaai dit sou veroorsaak? Hoekom is dit dan reg om dit in Chicago te doen?”
Hy het verder benadruk dat hy in samewerking met die stadsbestuurder wil herbesin oor waar EPWP-werkers ontplooi word.
Oor die kwessie van haweloosheid het Korabie gesê hy is reeds in gesprek met Jaco Londt, die Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, oor die bestuur van die Night Haven-nagskuiling vir haweloses in die Paarl.
“Die skuiling word deur die provinsie bestuur. Haweloses van ander plekke word daar opgeneem en ná 30 dae beland hulle op ons strate.
“Dit is iets wat ek wil oplos. Hier is dus baie haweloses in ons strate wat nie eens van die omgewing is nie. Dis ’n ernstige gesprek wat ek met die LUR wil voer,” het Korabie gesê.
Hy gaan dit vir die res van sy termyn ’n prioriteit maak om te hou by die beloftes wat uiteengesit is in die begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan vir die 2024-’25- boekjaar.
Daarby sal hy ook sy burgemeesterskomitee aanspreeklik hou deur maandelikse verslae oor hul werk aan die raad te lewer.





