Die Paarlse sportterreine was reeds verskeie kere ’n besprekingspunt onder sportliefhebbers nadat die Parys-sportterrein reeds ’n ruk gelede vir ontwikkeling goedgekeur is. Die Drakenstein-munisipaliteit moes toe vinnig van besluit verander nadat die saak in die Wes-Kaapse hooggeregshof gedraai het en die ontwikkeling nietig verklaar is.
Maar in die gange van die munisipaliteit se hoofkantoor heers gissinge uit verskeie oorde oor die stadsvaders se planne om gedeeltes van die Boy Louw-sportterrein langs die Bergrivier Boulevard in Noorder-Paarl te vervreem.
Hierdie is ’n baie gewilde terrein vir sokker sowel as rugby, met klubs uit die hele Drakenstein-gebied wat reg deur die jaar daar meeding.
Paarl Post het na die Drakenstein-munisipaliteit uitgereik om meer uit te vind oor wat presies hul planne vir die Boy Louw-sportterrein is en of dit planne vir ontwikkeling insluit.
“Die [Drakenstein-] munisipale raad het die voorgestelde vervreemding van ’n gedeelte van [die Boy Louw-sportterrein] op 31 Julie vir gemengde gebruik goedgekeur, asook die gepaardgaande verskuiwing van sekere sportfasiliteite na ander gedeeltes van erf 593 [die Boy Louw-sportterrein],” volgens Seraj Johaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste.
Volgens hom sal die munisipaliteit die voorgestelde veranderinge teen 14 September adverteer, waarna die publiek kommentaar kan lewer.
“Geen voorstelle in terme van die voorgenoemde proses is tot nou al by die munisipaliteit ingedien nie,” het Johaar gesê.
“Alle bestaande sportgeriewe sal op die betrokke gedeelte van [die Boy Louw-sportterrein] behoue bly en sal moontlik net van huidige ligging verander. Geen sportkodes hoef dus elders op ander sportvelde geakkommodeer te word nie,” het hy per e-pos aan die Paarl Post gesê.
In terme van die De Poort-sportterrein is die langtermynverhuring en -ontwikkeling reeds deur die munisipale raad goedgekeur.
Volgens Johaar is die “vervreemding” van ander munisipale grond, soos die Parys-sportterrein, egter nog onder bespreking.. The Drakentein Municipality is looking at ways of disposing some of its properties, with the latest in the line of fire being the popular sport fields of Boy Louw.





