Mandy-Leigh van Aswegen.Foto: Liezl Davids


Nadat Mandy-Leigh van Aswegen vir jare haar eie pad gestap het met verslawing, help sy nou ander om hul pad na herstel te vind.

Mandy-Leigh, wat reeds vir 16 jaar nie meer aan dwelms verslaaf is nie, maak dit van die staanspoor af duidelik dat sy ’n recovering addict is.

“Ek is nou al 16 jaar in recovery en ek het op die ouderdom van 14 vir die eerste keer met dwelms begin eksperimenteer. Ek het op die ouderdom van 10 my ma se geld gesteel en daar het die gedragsprobleme al begin wys. Voor ek 19 was, is ek deur baie trauma. Ek was in Thailand se tsunami en toe ek 19 was, is ek verkrag deur ’n wildvreemde man. Ná die verkragting het my verslawing verskriklik gesneeubal. Van daar af het ek verskriklik begin dwelms gebruik.”

Sy vertel dat sy twee jaar daarna ook drie motors afgeskryf het.

Volgens Mandy-Leigh was sy verslaaf aan kokaïen en hoewel sy gewerk het as ’n bemarkingsassistent, het sy die meeste van haar geld aan dwelms bestee.

“Ek het my ouers rot en kaal besteel. Verslawing is ’n wilde ding en ek dink baie mense onderskat dit.

“Vandat ek in rehabilitasie was, het my ma-hulle ook ’n program gevolg en weekliks groepe bygewoon, want dit is nie net die persoon (verslaafde) wat ’n pad moet stap nie, dit is die mense om hulle wat ook die pad moet stap. Hulle sê verslawing is ’n familiesiekte. Jy het nou gehoor, ek het drie karre afgeskryf, so nou wonder jy seker, waar het al die karre vandaan gekom? My pa het dit vir my gekoop. So daar was geen gevolge vir my aksies nie.” Hulle (haar ouers) moes ook gerehabiliteer word in ’n sekere manier om te kon sien dat hoewel hulle dalk gedink het hulle is deel van die oplossing, hulle ook deel van die probleem was . . . nie dié probleem nie. Mense wat saam met verslaafdes stap moet weet daar is drie C’s. I didn’t Cause it, I can’t Control it, and I can’t Cure it.”

Mandy-Leigh meen egter dat ouers dikwels die situasie probeer beheer, maar hoe meer hulle probeer om dit te beheer, hoe meer glip dit deur hul vingers.

‘Toe ek 21 was, het my pa gesê hy gaan die polisie bel óf ek gaan rehabilitasiesentrum toe. Ek het toe rehabilitasiesentrum toe gegaan. Ek dink ek was vir agt maande in my eie program en dit was die begin van die rehabilitasie.”

Sy vertel selfs die aand toe haar ouers haar tot by die lughawe geneem het, wou sy nie saam met hulle ry nie, omdat sy nie wou gaan nie.

“Ek het dwelms by my gehad op die vliegtuig. So verslawing het geen brieke nie. Dit het nie respek vir mense nie, dit is so selfgesentreerd.

“My eerste week daar was baie interessant. Eerstens het ek gedink dit is ’n sosiale klub, so ek het lekker gesosialiseer en gekuier. Dit het my seker vier maande gevat om die 12-stap-program te doen en om agter te kom ek het eintlik ’n helse probleem.

“Ek het daar gesit en gesê ‘ken julle my familie, ek is eintlik hier om weg te kom van hulle af’, min wetend dat ék die probleem is.

“Die realiteit vat nogal ’n ruk om in te sink vir ’n persoon wat ’n verslaafde is om regtig tot hul sinne te kom en te sê ‘eintlik is my lewe nie so great nie, eintlik het ek klomp goed om aan te werk’. En dit is ’n leeftyd se werk wat ’n mens het.

“Ek was verslaaf aan kokaïen, maar rook was vir my moeiliker om op te gee as kokaïen, omdat dit so aanvaarbaar is om te rook.

“Ek dink drank is ook een van die moeilikste dinge vir mense om op te gee omdat dit so vrylik beskikbaar is.

“Baie mense sê gaan vir 21 dae (rehabilitasie), maar as jy vir sewe jaar in aktiewe verslawing was soos ek, gaan jy nie in 21 dae regmaak wat in sewe jaar verkeerd geloop het nie.”

By die rehabilitasiesentrum het Mandy-Leigh as huismoeder begin werk en sy meen dit is waar haar passie begin het en sy besluit het om haar ervaringe te gebruik en iets positiefs daarvan te maak.

“En toe het ek begin swot. Ek het eintlik in my verslawing ná skool sielkunde begin studeer en dit nooit voltooi nie.

“Nadat ek my eie pad gestap het met verslawing en recovery het ek besluit ek moet sielkunde gaan studeer.”

Omdat sy gewerk het terwyl sy studeer het, het sy haar studies oor 10 jaar voltooi.

Nadat sy haar program by die rehabilitasiesentrum voltooi het, het Mandy-Leigh by ’n ondersteuningsgroep wat uit die sentrum gebore is, aangesluit en het sy elke week die ondersteuningsgroep bygewoon. Vandag is sy steeds ’n fasiliteerder by dié groep.

Sy vertel dat sy self ook in berading is en dat sy nog die heeltyd ’n pad van berading stap.

“Veral as ’n professionele persoon moet ek in my eie berading wees, want ek kan nie níé na myself kyk en dan my kliënte wil help nie.

“Jy kom nie uit ’n rehabilitasie­sentrum as ’n recovered addict nie, jy is ’n recovering addict. So jy moet kan praat wanneer jy gedagtes het om [dwelms] te gebruik.

“Jy moet praat oor wat daardie gedagtes aanwakker en wat jy daaraan doen.”

Augustus vanjaar is Mandy-Leigh se aanlynpraktyk twee jaar oud. Sy bied groepondersteuningsessies sowel as individuele sessie via Zoom aan.

“Ek het nie net my kwalifikasie nie, maar ek het lewenservaring want ek het die pad gestap. Ek sien goed raak in mense wat ek in myself al raakgesien het en al het ek ’n baie moeilike pad gestap, kan ek my ervaring vandag ten goede gebruik.

“Ek kan ’n ruimte skep vir mense en sê ek oordeel jou nie.”

Sy sê as sy nou terugkyk en met die inligting wat sy oor die afgelope 16 jaar ingewin en geleer het, het sy eintlik ’n gedragsprobleem gehad en het dwelms die simptoom daarvan geword.

Mandy-Leigh sê dat dit juis vir haar as deel van haar werk as berader belangrik is dat mense nie net oor die simptome van verslawing praat nie, maar oor wat die oorsaak daarvan is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article