André Smith, ’n gereelde rubriekskrywer vir Media24, het pas sy tweede boek vrygestel. Sy boek, Die Knokker boomblom sal weer bot, verskyn slegs twee jaar nadat hy sy debuutbundel, My Sandveldbos, in 2021 die lig laat sien het. Sy debuutbundel is as ’n selfpublikasie uitgegee. Sy tweede bundel is op Vrydag 11 Augustus deur Malherbe Uitgewers in KwaZulu-Natal vrygestel.
Oor sy nuutste bundel het André die volgende te sê:
“Dis my omgeehart vir my medemens wat my hand beweeg om te skryf. Waar ander net die vaalte en eenvoud sien, gewaar my oog die mooi van die mens voor my. Daar is soveel van ons doodgewone Suid-Afrikaners wat nooit die erkenning sal ontvang vir die positiewe invloed wat hulle in ons gemeenskappe het nie.
“Ek is passievol daaroor om hierdie mense se stories te vertel. Iemand moet en sal weet van hulle, want soveel inspirasie, wysheid, omgee en hoop is in hierdie stories opgesluit.
“Met soveel uitdagings waardeur ons as Suid-Afrikaners deesdae in die gesig gestaar word, wil ek met elke inspirasie-storie en rubriek ’n vars briesie hoop na die leser bring. Elke storie en rubriek wil die boodskap oordra dat jy nie alleen is nie; met soveel goed en mooi in hierdie land van ons dat dit absoluut die moeite werd is om dit met mekaar te deel.
“Met hierdie publikasie, Die Knokker boomblom sal weer bot, wil ek jou uitnooi om nuwe hoop en moed te skep, saam te lag en wonder en sommer net weer tuis te voel in ons mooi land. En onthou – ons is Afrika en Afrika is ons! Geniet die lees.
“Ek is geweldig trots op hierdie mylpaal en ek is absoluut seker daarvan lesers sal hierdie boek baie geniet. Dis vir my ook aangenaam om ons lesers in te lig dat my boek die eerste keer nasionaal en internasionaal beskikbaar sal wees.”
Die boek is op aanvraag by alle Bargain Books-winkels te kry. Jy kan dit ook aanlyn bestel by sales@malherbe-uitgewers.co.za of WhatsApp 068 301 7883. Dis ook beskikbaar op Amazon as Kindle of sagteband.





