Ter ere van Jeugmaand bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument ’n gratis slypskool met die musikant Luna Paige oor Afrikaanse protespoësie aan.
Op Saterdag 11 Junie sal deelnemers die opwindende werke van onder andere Adam Small, Breyten Breytenbach, Patrick Pietersen en Lynthia Julius ontleed waarna hulle hul eie gedigte en lirieke, direk deur Luna getoonset, kan skep.
Die digters wie se werk bespreek gaan word, is almal bekend om hul oorspronklike Afrikaanse werke wat maatskaplike kwessies en onderdrukking prontuit takel. Gegewe die frustrasies en uitdagings wat vandag se jeug ook ervaar, is die idee van die werksessie om jong mense ’n skeppende uitlaatklep vir hul idees te help gee.
Deur musiek met van die gedigte/lirieke te kombineer, word daar gewys hoe klanke en woorde saam kan werk om protesboodskappe aan jonk en oud oor te dra.
Luna is ’n liedjieskrywer, sanger en vervaardiger wat sedert 1999 vyf vollengte Engelse en Afrikaanse albums bekend gestel het. Sy geniet dit om haar eie digkuns as bindingsteks in haar musiekvertonings in te werk, en het al talle literatuurwaarderingswerk-sessies vir hoërskoolleerders aangebied omdat sy letterkunde met soveel jongmense moontlik wil deel. Die werksessie vind op 11 Junie van 09:00 tot 13:00 in die Toringkerksaal, Paarl, plaas. Besprekings vooraf via kommunikasie@taalmuseum.co.za of 021 863 0543 is noodsaaklik. Vir meer oor Luna besoek lunapaige.com.
Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied ook virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.
Die Taalmonument, Taalmuseum en koffiewinkel is oop vir besoekers. Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.




