In die nasleep van die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se verskuiwings in Magnolia is inwoners wat tydens dié Rooiland-onluste deur koeëls getref is, besig om regsadvies te bekom.
Een so ’n inwoner, Anthony Fortuin (38), sit vandag met ’n koeël in sy bors. Hy sê hy het met sy eie oë gesien hoe Kiano Samuels (28) in die informele gebied by De Laan deur verskeie skote platgetrek is.
“Dit het die Dinsdag (7 Februarie) tussen 11:00 en 12:00 gebeur nadat baie van die hokke al platgeslaan was. Ek was nie self by die verskuiwings of klipgooiery betrokke nie. Ek het net die chaos aanskou en gesien hoe Kiano voor die mobiele winkel deur koeëls getref is.
“Ek het toe gehardloop na waar hy gelê het. Die skuim het al uit sy mond begin borrel en net toe ek afbuk om hom te help, is ek in die ribbes deur ’n rubberkoeël en vermoedelik ’n gewone koeël ook getref.”
Fortuin het in erge ongemak sy wonde aan Paarl Post getoon.
Die sigbare letsels wys een groot wond aan die linkerkant van sy ribbekas (vermoedelik dié van ’n rubberkoeël) en ’n kleiner merk wat die dokter aan Fortuin gesê waaragter ’n koeël etlike sentimeters van sy hart af diep in sy borskas vassteek.
“Die dokter sê hy kan dit nie verwyder nie. As hy probeer, kan dit my dalk verlam laat. Ek is met antibiotika en pynmedikasie huis toe gestuur.”
Nog ’n vrou, wie se identiteit weerhou word, het Donderdag (16 Februarie) pynlik gehinkepink omdat haar been ook steeds ’n koeëlpunt in het.
“Ek het Dinsdagoggend 7 Februarie net na 10:00 by 7de Laan (informele straat) uitgekom om te sien wat by Rooiland aangaan, toe skote begin klap. Ek was nie naby enige oproerige groepe nie en ’n koeël het my van Rooiland se rigting af in die linkerbeen getref.”
Dié 29-jarige vrou is die volgende dag na Paarl-hospitaal vir ’n mediese ondersoek. Vir redes waaroor sy onseker is, kon dokters nog nie die koeël verwyder nie.
Kiano se ma, Carol Samuels (59), sê sy begrafnis sal moontlik hierdie week plaasvind. “Terwyl die skote buite geklap het, het Kiano nog aan die tafel gesit en ontbyt eet. Hy was toe op pad winkel toe om iets te gaan koop. Sowat vyf minute later kom een van sy vriende in die huis gestorm en sê ‘Kiano is geskiet!’.
“Ek is baie hartseer oor my kind, wat heeltemal onskuldig is en soos ’n dier meer as een keer in die straat geskiet is,” vertel Samuels.
’n Ondersoek na moord tydens die onluste is van stapel gestuur toe die DM op ’n klagte van onwettige grondbesetting op Rooiland tussen 5 en 8 Februarie gereageer het.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het Dinsdag bevestig geen ander sake is deur slagoffers, behalwe dié van Kiano se dood, by hulle aangemeld nie.
Die situasie het op 7 Februarie kookpunt bereik toe wetstoepassers en veiligheidsvennote van die DM, wat Vetus Schola-veiligheidswagte, die polisie en lede van die openbare-orde-polisiëringeenheid (Pops) ingesluit het, glo ’n bevel van “minimalemag-benadering” gevolg het. ’n Betroubare polisiebron is gevra hoe dit gebeur het dat van dié veiligheidsvennote moontlik só nalatig kon wees om lewendige ammunisie by só optrede te gebruik.
Hy sê toe: “Dit kom neer op die gehalte van beplanning. Hoe is vooraf beplan om strategiese aksies met die minste hoeveelheid geweld uit te voer?”
Drakenstein se direkteur van gemeenskapdienste, Gerald Esau, sê die operasie wat deur DM in Rooiland van stapel gestuur is, is vanaf die aanvang van die onwettige besetting van dié munisipale grond goed gekommunikeer.
“DM het die onwettige besetters daagliks gevra om hul strukture te verwyder, en die strukture afgebreek soos dit gebou is. Die gemeenskap het egter saamgespan en hulle verset teen die handhawing van wet en orde, asook die munisipale amptenare en polisielede met klippe bestook.”





