Die bekende Paarlse fiksheidsafrigter Olivia Losper is tans te sien in die splinternuwe werklikheidsreeks Die groot afskud, waar sy lid is van ’n span afrigters wat deelnemers help om gewig te verloor.
Losper, ’n oudleerder van die Hoërskool Hugenote en eienaar van die gimnasium Livfit in die Paarl, is die fiksheidsafrigter in dié program, waarin ses deelnemers hul lewe probeer verander.
Die deelnemers is in twee spanne van drie elk verdeel en met die hulp van die “afskud-afrigters”, wat bestaan uit ’n sielkundige, ’n dieetkundige en Losper as fiksheidsafrigter, begin hul reis om die ekstra kilo’s met alle mag af te skud.
Losper, wat reeds van 21-jarige ouderdom af aan haar handelsmerk, Livfit, begin werk het, sê sy kom uit ’n familie waar alles altyd met kos gevier word.
“My ouma het 150 kg geweeg toe ons haar begrawe het. Ek het toe al besef: Ek wil nie so lewe of sterf nie. My ma is een van agt kinders en op 100 kg is sy die ligste,” vertel sy.
Sy sê haar motivering om ’n gesonde leefstyl te handhaaf is dat sy “lank en lekker” wil lewe.
“’n Goeie kwaliteit lewe, begin by ’n gesonde leefstyl. Ek wil op 60 jaar oud nog op tafels kan dans!”
Losper sê dit het haar agt jaar van spaar en harde werk gekos om haar gimnasium se deure uiteindelik in 2016 te open.
Volgens Losper kan oefening eenvoudig wees en hoef jy nie by ’n gimnasium aan te sluit nie, maar jy kan begin stap en jou kragte stelselmatig opbou.
“Dit gaan oor ’n kopswaai. Ons is soos goeie wyn – ons gaan met tyd beter word, en ek wil vir elke deelnemer sê: Moenie te hard op jouself wees nie. Die mense op voorblaaie lyk tog nie so in die regte lewe nie. Om jouself met ander te vergelyk, kan nooit ’n goeie ding wees nie. Fokus liewer op jouself en vier dan elke liewe klein mylpaal. Stap vir stap en dag vir dag – dis hoe ons dit gaan aanpak.”
“Ek is so dankbaar om deel te kan wees van ’n program waar ons mense gaan help om ’n beter kwaliteit lewe te lei,” het Losper gesê.
Volgens die vervaardiger van die program, Nicole Bailey, gaan Die groot afskud oor baie meer as net gewigsverlies.
“Dit ontleed menslike stories van dinge wat ons terughou: traumas uit die verlede, negatiewe oorlewingstegnieke en hoe om ons perspektiewe te herstruktureer om ’n lewe te skep wat ons liefhet,” het Bailey gesê.
Deelnemers sal tweeweekliks deur die afskud-afrigters by die afskudhuis in Kaapstad geweeg en gemonitor word. Ander tye volg die kameras die afskud-afrigters wanneer hulle die deelnemers in hul tuisdorpe besoek.
Die spanne ding om ’n geldprys van R300 000 mee, en die span wat aan die einde van die ses maande die meeste kilo’s afgeskud het, wen dié prys. Elke tweede week sal daar ook ’n uitdaging by die afskudhuis wees waar die voorlopers ’n aansporingsprys kan losslaan.
Die groot afskud is Dinsdae om 20:00 te sien op VIA (DStv-kanaal 147), met heruitsendings Saterdae om 19:00 en Sondag om 11:00.





