Inskrywings is oop vir die Talento-sangkompetisie en vanjaar beloof die organiseerders dat die kompetisie nog beter en groter gaan wees.
Die Talento-sangkompetisie is die geesteskind van vyf musiekonderwysers, wat leerders ná die grendeltyd die geleentheid wou gee om weer voor ’n gehoor in ’n teater op te tree en so ook hul selfvertroue en talente te bevorder.
Die uitdunne word Vrydag 5 en Saterdag 6 Mei by Curro Langebaan aangebied. Uitdunne word ook in Mei in Bellville, Worcester en die Paarl gehou.
Die halfeindronde word Saterdag 3 en Saterdag 10 Junie by die Jamrock-teater in Brackenfell aangebied. Die eindronde word Saterdag 22 Julie in die Barnyard-teater in die Tygervallei-sentrum aangebied.
In 2022 het deelnemers van so ver as die Koue Bokkeveld, Porterville, Swellendam en Kleinmond opgetrek en wenners is in drie ouderdomsgroepe en meer as 22 afdelings gekroon.
’n Geleentheid sal vanjaar weer aan deelnemers gegee word om met ’n video vir die eerste ronde in te skryf.
Die organiseerders gee deelnemers ook die geleentheid om hul eie komposisie in te skryf, waarvoor groot pryse op die spel is. Geldpryse van meer as R40 000 is op die spel.
Die algehele wenner in die junior afdeling sal met R5 000 wegstap.
Die wenners in die senior en ope afdelings sal elkeen R10 000 wen.
Alle deelnemers in al drie rondes sal ’n sertifikaat ontvang.
Aspirantsangers sal na afloop van die uitdunrondes asook die halfeindronde terugvoering ontvang van bekwame, onafhanklike beoordelaars met kennis in sangonderrig asook die vermaakbedryf.
Volgens die organiseerders is daar baie musiekkompetisies, maar wat Talento in ’n ander liga plaas, is dat dit ’n opvoedkundige ervaring moet wees en dat alle deelnemers spesiaal moet voel.
Alle aspirantsangers en liedjieskrywers word genooi om aan die mees opwindende sangkompetisie in die Wes-Kaap deel te neem. Die sluitingsdatum is Vrydag 21 April. . Stuur e-pos na talentocomp@gmail.com of Whatsapp 079 967 3197 (na-ure) vir nog inligting.





