Wes-Kaapse onderwysers word aangemoedig om aan die 2022- Nasionale Onderrigtoekennings deel te neem, en benoemings is tot 26 Julie oop.

“Die toekennings gee die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) die geleentheid om erkenning te gee aan die ongelooflike werk wat so baie van ons onderwysers die afgelope jaar gedoen het, en om die prestasies van uitstaande onderwysers in die Wes-Kaap te vier,” sê David Maynier, die Wes-Kaapse minister van opvoeding.

Die provinsiale onderrigtoekennings sal gedurende September plaasvind, en die wenners in elke afdeling sal in Oktober by die Nasionale Onderrigtoekennings meeding.

“Vorige wenners het voortgegaan om groot dinge in die onderwys te doen, en ek hoop ons skole sal hierdie geleentheid benut om hul verdienstelike onderwysers ’n kans te gee om op ’n provinsiale en nasionale verhoog te skitter,” volgens Maynier.

Alle onderwysers, beheerliggame en distriksamptenare word genooi om benoemings by hul skoolhoofde of sentrumbestuurders in te dien.

’n Notule is aan alle skole gestuur waarin die vereistes en inskryfvorms vervat is.

Onderwysers kan in verskeie afdelings benoem word.

Al die inligting wat vir benoemings nodig is, is nou reeds op die WKOD-webwerf by https://wcedonline.westerncape.gov.za/national-teaching-awards beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article