Geen genade is verlede week in die Paarl-streekhof betoon by die vonnisoplegging van ’n skrootdief van Mbekweni nie. En hierdeur word skrootdiewe voorts gewaarsku – die gereg gaan nie langer hierdie sabotasie duld nie.
Streeklanddros Patrick Ross het in sy uitspraak hard gepraat oor die toename en vergrype van mense. Diegene wat infrastruktuur vernietig of beskadig of daarmee peuter, moet weet dat hulle ’n minimum vonnis van 15 jaar opgelê kan word – en dis net vir eerste oortreders, het Ross beklemtoon.
Die beskuldigde, Khumbulani Ntsiye (28), is in 2018 deur ’n veiligheidswag by die Hugenote-stasie gesien toe hy teen ’n paal opgeklim en elektriese kabels geknip het. Hy was met ’n harnas aan die paal vas.
Die wag het alarm gemaak. Twee polisiebeamptes het opgedaag en die gebied gefynkam, en Ntsiye is betrap waar hy in lang gras naby die treinspoor weggekruip het.
Hy het ’n harnas en handskoene asook geknipte elektriese kabels by hom gehad.
Ntsiye het in die hof beweer hy was die oggend omstreeks 04:45 op pad na sy werksplek toe hy in hegtenis geneem is.
Die hof het egter danksy die staat se getuienis bevind dat Ntsiye wel die daad gepleeg het.
Ross het gesê hierdie dade kom neer op sabotasie en word ten sterkste veroordeel.
“Nou die dag het iemand sy lewe verloor omdat hy met kragdrade gelol het. Dis nie net Prasa, Telkom of munisipaliteite wat deurloop nie, maar dit het ook ’n groot uitwerking op ons ekonomie.
“Daardie dag kon mense nie werk toe gaan nie, kinders kon nie skool toe gaan nie, mense is sonder vervoer gelaat en moes ander reëlings tref.”
Die staatsaanklaer, Enslin Orange, het die hof gevra om die plaag van soortgelyke diefstalle te stop en die beskuldigde lang tronkstraf op te lê.
Ross het gesê die hof het die meer as drie jaar wat Ntsiye verhoorafwagtend was by vonnisoplegging in aanmerking geneem, asook die beskuldigde se persoonlike omstandighede. Maar die erns van die daad kan nie hierdeur verbloem word nie.
“Daar is geen ander straf vir die dade nie.”
Ntsiye is 12 jaar gevangenisstraf opgelê, waarvan vier jaar opgeskort word vir vyf jaar. Die beskuldigde is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapenlisensie te bekom.





