’n 28-jarige man is dood ná skote vandag (Dinsdag 7 Februarie) in Rooiland in Magnolia, Paarl-Oos geklap het.
Die man is raakgeskiet toe ’n beplande operasie deur Drakenstein-munisipaliteit, wetstoepassers en ’n privaat veiligheidsmaatskappy uitgevoer is om onwettige woonstrukture in die omgewing af te breek.
Woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, kapt. Basil Seekoei, sê omstandighede rondom die voorval is nog nie bekend nie.
“ ’n Moorddossier is geopen en die dood van ’n 28-jarige man word ondersoek,” bevestig Seekoei.
’n Privaat veiligheidsmaatskappy het die munisipale werkers asook die wetstoepassingsbeamptes vergesel, maar daar is verneem dat die openbare orde polisiëringseenheid (Pops) later na die toneel ontbied is.
’n Aktief-betrokke inwoner van Paarl-Oos, Edgar Petersen, het Dinsdag ’n regstreekse video-uitsendings van die toneel op Facebook uitgesaai.
In dié uitsendings kan stootskrapers, woedende inwoners, en wetstoepassers gesien word in wat omskryf kan word as, toenemende chaotiese anargie.
In van die opnames het Petersen met inwoners wie se wonings deur wetstoepassers geteiken is, gesels.
Die mans en vroue se woede is byna tasbaar toe hul vertel dat verteenwoordigers van die munisipaliteit glo vroeër pogings aangewend het om met hulle oor die situasie te onderhandel.
Dit, etlike dae ná chaos Saterdagmiddag in die gebied losgebrand het toe Drakenstein-wetstoepassers en die polisie drie-en-’n-half uit ’n totaal van ses wonings suksesvol afgebreek het, voor hulle uit die gebied verjaag was.
Die Paarl Post het ’n dringende navraag aan Drakenstein-munisipaliteit gerig oor die verloop van die operasie wat tot geweld in Rooiland, Magnolia, gelei het, maar nog geen terugvoer is vanaf die munisipaliteit ontvang nie.
Hierdie is ’n ontwikkelende nuusstorie.
Lees die volle storie in die week se uitgawe van die Paarl Post.





