’n Inwoner is Vrydag (8 September) in ’n skietvoorval in Paarl-Oos gewond nadat ’n polisiebeampte ’n skoot in selfverdediging afgevuur het toe een van sy kollegas glo deur ’n pitbull aangeval is, maar inwoners hou vol dit is ’n liegstorie.

Die voorval het na bewering by die Bauhinia-woonstelle tydens ’n polisie-optrede plaasgevind. Kapt. Anthony Sauls, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, sê dit was ’n distrik- polisie-optrede waar lede van ander polisiekantore in die Kaapse Wynland-polisiedistrik kom uithelp het ná die verskeie skietvoorvalle wat in Augustus in Paarl-Oos aangemeld is.

’n Groot polisieteenwoordigheid was Vrydag in Paarl-Oos sigbaar toe verskeie polisie-eenhede, soos die teen-bende-eenheid en openbare-orde-polisie-eenheid (Pops) en selfs die polisiehelikopter, intensief deur die gebied gewerk het.

Volgens ’n 34-jarige inwoner, wat in die Bauhinia-woonstelle op die boonste verdieping woon, het sy voor haar venster gestaan toe die polisie na bewering soos in die wilde weste toegesak het.

“Ek woon in Bauhinia-woonstelle en het gesien hoe die slagoffer saam met ander jonger seuns by ’n ligpaal by die woonstelle gesit en dobbel het. Polisie- voertuie het toe by Plumbagostraat en Bauhiniastraat afgery na die woonstelle. Dit was seker so sewe voertuie en toe stop hulle by die ligpaal. Hulle het net die deure oopgemaak, uitgespring en hulle het begin hardloop. Die span wat daar gesit en dobbel het, insluitend die persoon wat geskiet is, het ook begin hardloop. Maar die polisie het nie gemik op die ander jonger laaities wat ook daar gedobbel het nie, die polisie was net uit op hom.”

Die inwoner voer aan die polisie het toe tydens die gehardloop een skoot afgevuur en verder gehardloop en nog ’n skoot afgevuur.

“Dis tydens die tweede skoot wat die 25-jarige man raakgeskiet is. Nou is die gerugte dat die pitbull die polisiebeampte gebyt het, dis hoekom hy geskiet het. Die pitbull pas nêrens in nie want daar was nie ’n pitbull nie. Dit is mos nou soos die konstabel moet lieg om hom uit die moeilikheid te kry. Ek het die hele besigheid gesien.”

Op die vraag of sy gesien het of die beampte die vuurwapen met opset op die slagoffer gerig het, het die inwoner ja geantwoord.

“Die slagoffer is vandag (11 September) geopereer. Sy heup is middeldeur geskiet en daar is ’n moontlikheid dat hy nie weer sal kan loop nie. Ook, daar was baie mense en kinders in die pad terwyl die polisie geskiet het.”

Paul Baron, wat glo ’n gemeenskapsleier in die gebied is, is van mening ’n polisieman mag net skiet wanneer sy lewe in gevaar is. In die geval van wat glo Vrydag gebeur het, beweer Baron dat die beampte se lewe nie in gevaar was nie, hoewel hy nie gesien het hoe die gebeure afgespeel het nie. Hy voeg by hulle het Sondag (10 September) die patroondoppies opgetel waar die skietery plaasgevind het, en sal dit indien as bewys in die strafregtelike saak wat nog teen die beampte aanhangig gemaak moet word.

“Sy lewe was nie ingevaar nie, want die persoon het weggehardloop van hulle af. So, dit is nie reg dat die beampte geskiet het nie. Deesdae is dit mos nou jy kan maar dobbel, dit is mos soos vriende wat onder mekaar die dobbelsteen rol, en destyds was dit mos onwettig. Die kinders van vandag is nog bang en skrikkerig vir die polisie. As hulle skielik uitspring, dan gaan jy mos hardloop,” sê Baron.

Paarl Post het navraag gedoen by die Drakenstein-munisipaliteit oor die wettigheid van dobbelary in die openbaar. Ingevolge Drakenstein se munisipale ordonnansie wat handel oor gedrag in die strate en openbare plekke word inwoners verbied om in die openbaar te dobbel.

Intussen het twee betroubare bronne afsonderlik bevestig dat die polisiebeampte wel aangeval is deur ’n pitbull en dat hy in ’n plaaslike hospitaal opgeneem is vir die ernstige bytwonde wat hy opgedoen het.

Paarl Post verneem ook vertroulik toe die beampte aangeval is deur die pitbull, het sy kollega ’n skoot afgevuur na die hond, in ’n poging om die hond af te weer en om sy kollega te verdedig. Die koeël het toe die grond getref en teruggeskiet en op daardie oomblik die 25-jarige man getref.

Die Paarl-Oos-gemeenskapspolisiërings­forum (GPF) het in ’n verklaring gesê altesaam 18 mense is tydens die optrede aangekeer.

Dit sluit in vir die onwettige handel in drank, dwelms en ’n gesteelde voertuig wat teruggevind is. Oor die inwoner en polisiebeampte-voorval lui die verklaring: “Ons as die GPF veroordeel ten sterkste ’n voorval waar ’n pitbull vrygelaat is en ’n polisiebeampte beseer is. Toe hy in selfverdediging opgetree het, is ’n omstander beseer, toe die koeël afgevuur is op die aanvallende hond, en ’n omstander getref het. Beide die polisiebeampte en omstander is hospitaal toe geneem vir behandeling van hul beserings.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article