Skoonmaakprojek in Wellington ‘herstel inwoners se waardigheid’

Leatitia Cupido staan by ’n groep Wellingtonners wat sy verlede week gemobiliseer het om Pelikaanstraat skoon te maak.Foto: Verskaf


Leatitia Cupido, ’n bejaarde inwoner van Wellington, het met ’n inisiatief begin waardeur sy die waardigheid van gemeenskappe wil herstel deur hul ingesteldheid oor vullisstorting te verander en ’n liefde vir hul omgewing onder inwoners te kweek.

In een van haar meer onlangse pogings het sy die sogenaamde Living Gangsters oorreed om Pelikaanstraat in Wellington skoon te maak.

Cupido het vandeesweek aan Paarl Post vertel hoe dié groep aanvanklik op die hoek van die straat gesit het, en sy hulle toe uitgedaag het om rommel wat die sypaadjies vol gelê het, op te tel.

“Ek ry omtrent elke dag deur daardie straat en dit het my regtig begin pla. My persoonlike ideologie was nog altyd dat ons almal eienaarskap van ons omgewing moet neem.

“Ek het toe die groep genader en sonder om enigiets aan hulle te belowe, het hulle sonder huiwering ingestem om die toestand van die straat te help verbeter. Sommige van hulle het sommer hul eie gereedskap gaan haal en die straat is ordentlik skoongemaak,” het sy vertel.

Cupido het die groep van swartsakke voorsien, waarna sy toe versoek het dat die Drakenstein-munisipaliteit die sakke vullis kom verwyder.

Sy het die groep elkeen met ’n klein fooitjie beloon.

“Ek het dit toe weer eens as ’n geleentheid beskou om ietsie by elk van hulle te plant. Ek het hulle nie net probeer oortuig om meer vriendelik teenoor die omgewing te wees nie, maar hulle ook herinner dat hul omstandighede nie ’n bepalende faktor hoef te wees in wie hulle as mens is nie.

“So baie van hierdie jongmense, wat by bendes en misdrywe betrokke raak, voel reeds dat die wêreld hulle verwyt. Ons moet hulle herinner dat hulle steeds ’n bydrae tot die samelewing kan lewer.”

Sy sê sy is al etlike jare by die rehabilitering van dwelmverslaafdes betrokke.

“Ek noem hulle sommer my seuns. Hulle is nie my biologiese kinders nie, maar ek probeer daardie moederfiguur in hul lewe wees – wat sommige van hulle werklik nodig het.

“Dit het regtig vir my ’n tweede natuur geword om mense se ingesteldheid te probeer verander.

“Die skoonmaakinisiatief met die Living Gangsters is nie die eerste en sekerlik nie die laaste nie.

“Ek doen hierdie al baie lank en sal graag wil sien dat ons ’n punt bereik waar mense so gekondisioneer word dat ons in die eerste plek nie vullis sal stort nie. Só sal ons inwoners se waardigheid herstel,” het sy bygevoeg.

Sy vertel hoe drie inwoners van Pelikaanstraat verlede week gesien het hoe sy die Living Gangstersaan die werk sit, en hulle (die inwoners) het toe ook daarna voor hul erwe begin skoonvee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article