’n Internasionale skoolprojek gefokus op volhoubare ontwikkeling bring leerders van Taiwan en Wellington bymekaar om oor wêreld-kwessies te gesels.
Die internasionale vennootskap met skole oor die wêreld heen is begin nadat leerders van Chung Hsiao Elementary School in Taiwan verlede September 156 poskaarte aan leerders van die Laerskool Swartland gestuur het.
Paul André, ’n Suid-Afrikaner wat ’n onderwyser in Taiwan is, sê die Pingtung-onderwysdepartement wou die ondervinding verder tot ’n wêreldwye projek bevorder nadat die Taiwannese leerders pragtige poskaarte terug ontvang het waarin die unieke landskappe van die Wes-Kaap vertoon is. “Ek het ’n kurrikulum ontwerp wat fokus op volhoubare ontwikkelingsdoelwitte volgens Unesco. Ons het toe ons eerste ontmoeting tussen Chung Hsiao Elementary School, die Laerskool Hugo Rust en die Laerskool Swartland geskeduleer. Dit was ’n geleentheid waar leerders hul erfenis, stokperdjies, kultuur, land en kos kon deel. Baie leerders het plakkate ontwerp, aangetrek en selfs werklike kos gewys.”
André vertel dat die skole se eerste aanlyn ontmoeting ’n reuse sukses was. Leerders het dit so geniet dat hulle nie totsiens wou sê nie. Hy sê dit was ook ’n emosionele ervaring vir sy seun, Loxton. Loxton het tydens die ontmoeting sy lewenservaring as ’n Suid-Afrikaner wat in Taiwan grootword, gedeel.
Die tweede ontmoeting tussen die drie skole was gegrond op die tema natuurlewe. Elke skool het inligting gedeel oor inheemse diere van hul land. Teen die einde van die sessie het elke skool ’n tradisionele liedjie van hul land gesing.
“Swartland het ‘Dans’ van Lollos gesing, Hugo Rust het ‘Bobbejaan klim die berg’ gesing, en Chung Hsiao het ’n tradisionele haka-lied oor respek vir ouer mense gesing.”
’n Derde en vierde aanlyn ontmoeting is reeds beplan. Dié keer sal leerders besprekings hou oor bedreigde spesies van hul lande. André sê hulle gaan ook praat oor onderwerpe soos aardverwarming, intensiewe boerdery, besoedeling en klimaatsverandering.
Die besprekings raak nie net aan die verskeie kwessies nie, maar die kinders gaan verder deur oplossings te bespreek. Elke skool sal dan voorleggings oor hul voorstelle doen.
“Die doel van die projek is om leerders bewus te maak van hoe om wêreldwye netwerke te vestig, hoe lande verskillende benaderings tot dieselfde wêreldkwessies het en om volhoubare wêreldburgers te word wat klimaatsverandering verminder,” voeg André by.
Die graad 6-klas van Charl de Villiers by die Laerskool Hugo Rust is baie opgewonde om deel van die projek te wees. “Hulle maak my die week voor die aanlyn ontmoeting mal. Dit is maar moeilik om hulle daarop gefokus te hou, maar hulle geniet dit so baie en ’n mens wil dit nie van hulle af wegneem nie. Partykeer, wanneer die kamera op hulle is, lyk dit asof hulle op Nuweland sit soos hulle vir die kamera waai,” vertel De Villiers laggend.
“Die feit dat ons kinders nou meer leer van die Taiwannese se land en hul kultuur, maak nogal die kinders se wêrelde oop op die gebied van wat eintlik alles elders gebeur.”
De Villiers en André het destyds saam onderwys aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Wellington studeer. Dié twee het op ’n tyd saam in Taiwan onderwys gegee, maar ná sewe jaar oorsee het De Villiers en sy gesin besluit om terug te keer Suid-Afrika toe. Hulle meen hulle is gelukkig dat hulle ná al die jare weer kan saamwerk.
Volgens André is die Taiwannese kinders net so opgewonde om die projek voort te sit. Die kinders het besef watter voordele hulle het om Engels te kan praat en om deur die taal met ander te kommunikeer. Hy voeg by dit is ’n goeie geleentheid vir die kinders om Engels te oefen, aangesien dit hul derde taal is. André sê die projek is ’n goeie voorbeeld van hoekom Taiwan wil hê sy burgers moet teen 2030 Engels as ’n tweede taal praat.. An international school project focused on sustainable development brings together learners from Taiwan and Wellington to discuss global issues.





