’n Jong skoolmeisie is Maandagmiddag na bewering vir ’n tweede keer met ’n mes deur haar vervreemde ekskêrel aangeval.Foto: DFW/Facebook


Met ’n bloeiende steekwond in haar kop, het ’n 16-jarige skoolmeisie Maandagmiddag met haar beserings aan die Drakenstein-plaaswag (DFW) se deur geklop om mediese behandeling te ontvang.

Dit is hoe die bevelvoerder van DFW, Daan van Leeuwen Boomkamp, die traumatiese hulpkreet op hul Facebook-blad beskryf nadat die meisie se voormalige kêrel haar na bewering met ’n mes in die kop gesteek het.

“ ’n Jong meisie wat vir die tweede keer deur [haar] ekskêrel gesteek is, kom vir mediese hulp by die hek van die DFW Brand-en-reddingsgroep in die Paarl, ” lui die inskrywing.

Die insident het na bewering in Paarl-Oos plaasgevind voor die meisie omstreeks 16:00 die klokkie by die DFW-kantore op die Sonstraalpad gelui het.

“Die jong vrou is deur ’n ekskêrel gesteek of met ’n mes op haar kop geslaan, aangesien sy nie aan sy toenadering wou toegee nie. Sy is glo vroeër in 2022 reeds op pad skool toe deur dieselfde [verdagte] in die rug met ’n mes gesteek en is erg beseer en het weke lank in die hospitaal gebly,” voeg Boomkamp by.

Optrede van die plaaslike polisie word nou onder die vergrootglas geplaas omdat die verdagte moontlik te lank deur die gereg toegelaat is om op vrye voet te wees.

Dit is die mening van Action Society se direkteur van gemeenskapsveiligheid, Ian Cameron, wat sê: “Hy het haar voorheen probeer doodmaak toe hy haar in die long gesteek het. Die polisie op die toneel gisteraand het vir my gesê hulle kon hom nie arresteer nie, want dit was skofwisseling.”

Cameron voeg by dat ten spyte van ’n vorige beskermingsbevel en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming, het die polisie hom steeds nie, ná meer as 24 uur, in hegtenis geneem nie.

“Sy word nou weer gedreig. [Die polisiestasie] sê ons moet môre terugkom wanneer speurders beskikbaar is,” het hy Woensdagmiddag aan Paarl Post gesê.

In sy Facebook-plasing het Boomkamp ook daarop gewys dat die meisie destyds reeds ’n saak gemaak het, maar dat die verdagte glo slegs net drie dae agter tralies was voor hy daarna op borgtog vrygelaat is.

“Die jong vrou het onlangs weer bang gevoel toe die 21-jarige man wéér opdaag en haar wéér dreig. Sy en haar ma het ’n hofinterdik teen hom gaan kry, maar vandag was dit van geen nut nie.

“Op sig het hy haar glo gedreig, ’n mes uitgepluk en haar in die kop gesteek,” is die bewerings wat glo deur die slagoffer aan Boomkamp oorgedra is.

In die ernstige lig van die beskuldigings wat op die plaaswag se perseel gemaak is, was die Paarl-polisie en Cameron ook die Maandagmiddag na die toneel geroep.

“Weereens is ’n saak ter plaatse by die polisie gemaak, en hierdie keer onder toesig van Action Society, en hopelik sal dit nou lei tot ’n suksesvolle inhegtenisneming en skuldigbevinding,” meen Boomkamp.

’n Amptelike polisieverslag oor die insident wat aan die Wes-Kaapse-polisie verskaf is spreek die skerp kritiek aan:

“In reaksie op ’n mediavrystelling op sosiale media deur [Action Society] met betrekking tot ’n huishoudelike verwante voorval wat op 17 Julie 2023 plaasgevind het, kan die volgende uit polisie-ondersoeke gerapporteer word.  Die saak is op 17 Julie by die Paarl-polisie aangemeld en die klagte is deur Paarl-polisie se amptenare opgeneem. Die klaers se verklaring is daarna geneem en ingelig dat die ondersoek sal voortgaan.”

‘n Polisiebron bevestig die saak is daarna na Paarl-Oos vir ondersoek oorgeplaas, aangesien die voorval in die Paarl-Oos-omgewing plaasgevind het.

“Paarl-Oos polisiebeamptes het die verdagte op die aand van 18 Julie gearresteer en hy sal op Donderdag 20 Julie in die Paarl-landdroshof verskyn. Ondersoek en konsultasie met die klaer dui daarop dat geen [mes]steekvoorval plaasgevind het wat in die sosiale media-vrystellings beweer is nie.”

Cameron sê die polisie se teenstrydige kommentaar oor die aard van die aanval dat die meisie nie gesteek is nie, is “skokkend”.

“Hoe weet hulle daar was nie ’n messteek-insident nie? Al kan die mes nie sommer deur die skedel breek nie, is sy steeds met ’n mes aangeval,” meen Cameron.

Die slagoffer en haar familie het die saak se mandaat aan Action Society toegeken om te verseker dat ’n suksesvolle vervolging van die verdagte sal geskied.

Ten slotte het Boomkamp vertel dat dié jong meisie nog op skool is en aspirasies het om in die toekoms ’n prokureur te word.

“Sy het ons empatie, ondersteuning en bystand nodig. Ons hoop sy herstel goed en dat haar dapper optrede om na vore te kom ’n voorbeeld vir ander in ’n soortgelyke situasie sal wees… Ons wil nie nóg ’n foto van ’n vermoorde (jong) vrou op ’n plakkaat hê nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article