Die bus wat skoolkinders vervoer het, lê op sy sy in ’n sloot langs die Sonstraal-pad.Foto: DFW

Credit: SYSTEM

Die Kaap van Storms het die afgelope week behoorlik sy naam gestand gedoen toe hewige reën, wind en koue die gebied getref het.

Chaos is in verskeie woonbuurte gesaai toe vloedwaters deur huise gestroom het, dakplate afgewaai is en boomtakke die wêreld vol gelê het.

In die Paarl is 65 mm reën sedert Maandag- tot Woensdagoggend gemeet, in Wellington 75 mm en in Franschhoek ongeveer 85 mm.

Oudergewoonte het die eerste winterstorm chaos oor die vallei veroorsaak. Toe ’n swaar reënbui Dinsdagoggend oor die vallei uitgesak het, het ’n bus vol skoolkinders omstreeks 07:00 langs die Sonstraal-pad, naby Ashante-plaas, omgekantel. Die Paarl-polisiewoordvoerder, kapt. Louise du Plessis, sê dit was ná ’n noue ontkoming met ’n ligte voertuig wat in die verkeerde baan gery het. “Die bestuurder van die ligte voertuig beweer die pad was in die swaar reën nie duidelik sigbaar nie en hy het nie besef dat hy in die aankomende baan beland het nie. Die busbestuurder het probeer om vir die aankomende voertuig uit te swaai en gevolglik van die pad af gery.” Geen leerder is in die voorval beseer nie en almal is van daar af veilig na hul onderskeie skole vervoer. Die bus- sowel as die motorbestuurder het ook geen beserings opgedoen nie.

Die Drakenstein-munisipaliteit het altesame 24 noodoproepe Maandagnag in verband met die storm ontvang – dit het ingesluit sewe voorvalle by eiendomme waar water die huise binnegedring het (ses in die Paarl en een in Wellington). Klagtes is ook uit Mbekweni, Paarl-Oos en Saron ontvang en aangepak. Sandsakke is by alle eiendomme, waar nodig is, gepak om verdere oorstromings te verhoed.

Marius Wüst, hoof van ingenieurs­dienste by die munisipaliteit het gesê voor die aanbreek van die winter, sedert Maart, het die munisipaliteit se stormwater-afdeling aansienlike voorbereidingswerk vir swaar reën gedoen en stormwaterdreine skoongemaak ten einde oorstromings en skade te voorkom.

Wüst sê dit blyk dat hierdie aksies vrugte afgewerp het en doeltreffend was aangesien slegs ’n enkele voorval van oorstroming weer by ’n eiendom voorgekom het wat op 21 Maart ook probleme ondervind het.

Ná swaar neerslae in die grootste gedeelte van die Drakenstein-diensgebied sedert Maandagmiddag het oorstromings egter wel steeds voorgekom, veral waar rommelstrooiing en blare verstoppings veroorsaak het.

Verdere voorvalle is aangemeld, wat insluit water wat eiendomme binnedring.

Die munisipaliteit se stormwater-bystandspanne is steeds besig om verstoppings te verwyder waar dit voorkom, en sandsakke af te lewer waar eiendomme in gedrang was en steeds is.

“Die munisipaliteit ondersteun die eienaars deurlopend om reëlings te tref om hul eiendomme te beskerm. Opruimingswerk word ook deurlopend gedoen met sewe spanne van ons stormwater-afdeling wat inwoners bystaan. Die ondersteuning van elke lid van die gemeenskap word waardeer,” het Wüst afgesluit.


. The first winter storm which hit the valley this week brought with it much chaos and devastation. The public is warned that more rain is expected on Saturday.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article