Die Laerskool Paulus Joubert het Saterdag geblom van trots oor hul twee oudleerders, Grant Williams en Kurt-Lee Arendse wat Saterdag vir die eerste keer vir die Springbokke uitgedraf het.
Williams en Arendse het toe hulle saam-saam begin mini-rugby speel by Laerskool Paulus Joubert.
Die skool het Saterdag met trots ‘n foto van Williams en Arendse in hul groen en goud op die skool se Facebook-blad geplaas asook ‘n inlasfoto van dié twee, op laerskool, saam met hul destydse rugbyafrigter en onderwyser, Sylvia Matthee.
Matthee, wie steeds ‘n onderwyser by die skool is en tans waarnemende adjunkhoof is, vertel dat sy steeds die dag onthou toe die foto geneem is.
“Ons het deelgeneem aan ‘n rugbytoernooi by Paarl Primêre Seunskool en daar was baie skole wat deelgeneem het. Kurt-Lee en Grant was my twee uitblinkers daardie dag. Ek het nog gesê ‘jinne manne, kom net hier na my toe sodat ek net ‘n foto met julle kan neem, julle gaan nog ver kom’,” vertel Matthee.
Sy sê dat sy die mini-rugbyspanne, vanaf graad 1 tot graad 3, se afrigter was en dat haar kollega, Christiaan Plaatjies, die senior-spanne daardie jaar afgerig het en dat hy altyd vir haar gehelp het en raad gegee het.
Matthee sê dat sy verskriklik trots op hulle is, maar dat sy nie die eer kan kry nie, maar dat die eer die Here toekom.
“Daardie kinders het uit hul omstandighede uitgestyg en dit is net die Here se genade.”
Matthee vertel ook hoe sy wanneer dit gereën het, die seuns laat oefen het onderdak by die skool.
“Ons het in die forum by die skool die skrum op die verhoog geoefen en die lynstane in die forum op die sementblad. Ons was baie kreatief ons het vir ons plek geskep om te oefen,” vertel Matthee.
Die waarnemende skoolhoof, Kenneth Uren, is netso trots op Williams en Arendse.
Hy vertel dat hy ook die kans gehad het om vir hulle af te rig, toe hulle saam onder 13 gespeel het.
Arendse het sy hoërskool-loopbaan by Paulus Joubert Sekondêr voltooi en Williams by Hoërskool Gimnasium.
Die ander Paarliete wat Saterdag ook vir die Bokke uitgedraf het was, Handré Pollard (oudleerder van Gimnasium) wie as kaptein die manne op die veld gelei het en Evan Roos (Boishaai).





