Boishaai se Gysbert Wege sal die Boland-krieketspan lei tydens die Khaya Majola-week.Foto:


Krieketliefhebbers kan uitsien na ’n hoogtepunt op die skolekrieketkalender, wanneer die Westelike Provinsie, Boland en Suidwestelike Distrikte (SWD) se o.19-skolekrieketspanne mekaar pak in die jaarlikse Khaya Majola-week wat van Donderdag 15 Desember in die Boland plaasvind.

Al drie spanne toon vanjaar uitsonderlike talent en dit behoort vir ’n skouspel van krieket te sorg.

Die WP en Boland beskik albei oor sewe spelers wat hul unies ook by verlede jaar se toernooi in Potchefstroom verteenwoordig het. Die Boland-span sluit boonop drie spelers in wat verlede jaar lid was van die Wynlanders se span by die Momentum-week vir o.16-spanne in Pretoria.

Die kapteins van die drie spanne is uit die geledere van hierdie strydrosse aangewys. Die leiding sal geneem word deur Juan James (Wynberg Boys’ High), Gysbert Wege (die Hoër Jongenskool Paarl) en Thurston Murphy (Bridgton House, George).

’n Interessante besluit met betrekking tot vanjaar se toernooi is dat die wedstryde op al vier dae oor 50 boulbeurte beslis sal word. Daarmee word weggedoen met die voldagwedstryde (wat alte dikwels gedoem is tot onbesliste uitslae), asook die T20-kragmetings wat in die verlede saam met die wedstryde oor 50 boulbeurte op die program was.

’n Ander interessante aspek is dat Namibië nou vir die eerste keer met twee spanne aan die toernooi sal deelneem.

Die program vir die eerste twee dae se wedstryde is:

15 Desember

WP t. Vrystaat (Bergzicht), Boland t. Namibië A (Bolandpark, Paarl), SWD t. Limpopo (Spes Bona-klub), Gauteng t. Kwa­Zulu-Natal Kus (Coetzenburg A), Noord-Gauteng t. KZN Binneland (Paul Roos-ovaal), Oostelike Provinsie t. Noordwes (Coetzenburg B), Noord-Kaap t. Grens Kei (Coetzenburg C), Mpumalanga t. Namibië B (Bridge House-veld), Oostelikes t. Grens (Coetzenburg D).

16 Desember

Boland t. Oostelike Provinsie (Paul Roos-ovaal), WP t. KZN Binneland (Coetzenburg B), SWD t. Namibië B (Coetzenburg D), Gauteng t. Noord-Gauteng (Coetzenburg A), Vrystaat t. KZN Kus (Coetzenburg C), Namibië A t. Grens (Bergzicht), Noordwes t. Oostelikes (Spes Bona-veld), Noord-Kaap t. Limpopo (Bridge House), Mpumalanga t. Grens Kei (Oude Libertas).

. Die SWD-span – wat voorheen as die Volstruisboere bekend gestaan het – staan nou op die krieketveld as die Tuinroete Ratels (oftewel Garden Route Badgers) bekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article