Skok waterrekenings: Familie ontvang rekening van R32 000 vir een maand se verbruik

‘n Noorder-Paarl familie het ‘n waterrekening ontvang van R32 000 vir net een maand se verbruik.


Wat doen jy as jou waterrekening maandeliks van R300 tot R32 000 spring?

’n Gesin van Noorder-Paarl probeer dít nog uitpluis nadat hulle aan die einde van Julie vanjaar die skok van hul lewe gekry het met die ontvangs van dié astronomiese rekening van die Drakenstein-munisipaliteit.

Dít boonop in ’n tydperk wanneer waterrekeninge gewoonlik laer is omdat in die wintermaande tradisioneel minder water gebruik word.

Die huiseienaar, wat eerder nie sy naam genoem wil hê nie, sê nadat hy byna flou geval het toe hy die rekening ontvang, het hy dadelik ondersoek ingestel en na die munisipale watermeter gaan kyk om die lesing self te sien. Hy het met skok gesien dat die wielietjies van die meter bitterlik vinnig gedraai het en die kiloliters baie vinnig afgemeet het – en dit terwyl geen water op die hele perseel op daardie tydstip gebruik is nie.

Gewapen met ’n video hiervan, het hy dadelik die munisipaliteit gebel, maar daar het sy sorge voortgeduur.

Hy het met iemand by die munisipaliteit se rekeningeafdeling gepraat, maar is meegedeel hy moet die diensteafdeling bel. So gemaak, maar dit was kort ná 17:00 en hy is meegedeel hulle werk nie ná ure nie.

Die volgende dag is die diensteafdeling weer gebel en daar is aan die klaer belowe dat die klagte dadelik na die tegniese afdeling oorgedra sal word.

Maar ná twee dae se gewag het die huiseienaar nog geen terugvoer ontvang nie.

Hy het die munisipaliteit weer gebel, maar net weer leë beloftes gekry dat hulle dringend na die situasie sal kyk om ’n oplossing te vind, maar nou – byna ses weke nadat die hemelhoë rekening aangemeld is – was niemand van die munisipaliteit al by die Reitzstraat-woning om die situasie te ondersoek nie.

Intussen draai die watermeter steeds onophoudelik en stuur die waterrekening na ’n nog hoër vlak.

Maar hulle is nie die enigste verbuiker wat tans geraak word nie. Nog ’n Noorder-Paarl inwoner het gesê dat hul jongste waterrekening ’n reuse- sprong van R350 per maand gemaak het na R11 000.

By navraag het Marius Wüst, direkteur van ingenieursdienste van die munisipaliteit, gesê alle gevalle van hoë waterverbruik word deur die tegniese afdeling ondersoek, en indien bevind word dit is deur ’n lekkasie op ’n private installasie veroorsaak, moet dit deur die verbruiker self herstel word.

Hy sê ook inwoners behoort hul verbruik maandeliks te monitor om te sien of die meter nie ongewone spronge aandui nie. Voorts kan die meterlesing dopgehou word vir enige beweging in die lesing – dit is nou wanneer geen water verbruik word nie.

Indien die meter wel registreer, moet die verbruiker dringend alle krane, toilette en warmwatersilinders se oorlope nagaan vir lekkasies en die lekkasies onverwyld herstel. Lekkasies direk teen die meter moet egter by die munisipaliteit aangemeld word sodat dit herstel kan word. Net die munisipaliteit mag watermeters herstel of vervang.

Voorts deel Wüst die publiek mee dat meters wat toeganklik is, maandeliks gelees word. Verbruikers word eerder aangemoedig om lesings maandeliks op die WhatsApp-stelsel deur te gee.

Wüst het verder gesê indien bevind word hoë waterverbruik is weens ’n lekkasie op die eiendom self, moet dit deur die inwoner se private loodgieter herstel word.

“Indien ’n lekkasie wel gevind is en dit is herstel, kan die kliënt ons van die loodgietersverslag, kwotasie, asook bewys van betaling voorsien,” sê Wüst.

“Die waterverbruik word ná herstelwerk vir twee tot drie maande gemonitor om vas te stel of die verbruik wel afgeneem het, waarna ’n moontlike kredietregstelling gedoen kan word.”. A Northern Paarl family had the shock of their lives when they received a water bill for R32 000.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article