Kunstiges van heinde en ver het onlangs in Wellington se historiese Bainstraat byeen gekom vir ’n opelug-kunssessie.
Hulle het geskilder, geskets en lekker saamgekuier en by die nabygeleë 55 Croissants-koffiewinkel iets gedrink.
Dit was ’n inisiatief van die Wellington-kunsvereniging.
“Ons beplan om gereeld deur die loop van die jaar nog sulke opelug-sessies op verskillende plekke in Wellington en omgewing te hou,” sê Desiree Malan, die dryfkrag agter die Wellington-kunsvereniging.
Sy sê ’n uitstalling van lede se werke word ook vir die einde van die jaar beplan.
“Die uitstalling sal ’n geleentheid wees waar plaaslike kunstenaars ons dorp se unieke karakter en atmosfeer met potlood en kwas kan vier.”
Kunstenaars en kunsliefhebbers kan by die vereniging aansluit teen R150 per jaar. Hulle sal ’n jaarprogram ontvang en genooi word om aan allerhande uitstappies, werksessies en uitstallings deel te neem.
Cathy Milner, ’n kunstenaar, is die gasspreker by die volgende byeenkoms van die Kunsvereniging op Woensdag 20 April om 18:30. Dit word by die Breytenbach-sentrum in Wellington gehou.. Vir navrae, kontak wellingtonkunsart@gmail.com of volg hul aktiwiteite op Facebook by @wellingtonkunsart en Instagram @wellingtonkunsart.


