Hoewel haar seun die afgelope naweek ter ruste gelê is, het Juilicia Wicklow, ma van die vermoorde Skynon Bailey (17), gesê daar is steeds baie onbeantwoorde vrae oor wat gelei het tot haar tienerseun se skietdood by ’n partytjie in Wellington verlede Saterdagaand (2 Maart).
Die polisie het net ná elf daardie aand aan Wicklow se deur by haar ma se huis in Smartie Town in die Paarl kom klop, met die tragiese nuus dat haar seun in Wellington doodgeskiet is.
Skynon het glo ’n partytjie daar bygewoon.
Volgens kapt. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder in Wellington, is Skynon se lyk met die polisie se aankoms in die straat aangetref.
Barkhuizen het by vorige navraag gesê ’n koeël, vermoedelik uit die vuurwapen wat ná die voorval gekry is, is sowat sewe meter van waar die lyk gelê het, gevind.
’n Moorddossier is sedertdien geopen.Skynon se ma het vandeesweek aan Paarl Post gesê sy is dankbaar dat die ondersoekbeampte in die saak haar gereeld op hoogte hou, maar vind dit vreemd dat niemand nog ’n meer akkurate weergawe kon gee van wat presies daardie aand gebeur het nie.
“Ek het tot dusver gesê ek weier om al die verskillende stories te glo en sal maar eerder wag totdat die speurder met meer geloofwaardige inligting hier aankom.
“Wat ek wel kan noem, is dat hierdie ding ’n mens nogal pla. Ons sal graag closure wil hê, so hopelik is daar binnekort meer duidelikheid oor wat presies gebeur het.”
Sy sê Skynon “was nie ’n bakleierige kind nie”.
“Die twee van ons het ons ups and downs gehad, veral toe hy nou ouer begin raak het. Jy kan egter vir enigiemand vra wat hom geken het – my kind was rustig. Hy het nooit moeilikheid gemaak nie.
“Ek was kort ná sy dood ook by sy skool, net om te hoor hoe hy as leerling was. Selfs daar kon die onderwysers nie glo dat hy so tragies van ons weggeneem is nie.
“Hy het hulle nooit probleme gegee nie, sy werk was altyd op datum en hy het nooit weens moeilikheid in die kantoor beland nie.”
Wicklow sê sy onthou die dag toe Skynon die laaste keer uit die huis is.
“Ek kan presies onthou watter klere hy aangehad het, want daai dag is hy hier weg met ietsie van elk van ons.
“Hy was baie lief om ons klere ook te dra.
“Hy’s daar by die hek uit en ek onthou hoe ek nog uitdruklik vir hom gesê het hy moet homself oppas daar in Wellington,” vertel sy.
Sy sê die verlange na Skynon is daar, en dat sy jongste sussie, Robyn (3), gereeld wil weet waar haar boeta is.
Skynon is Saterdag (9 Maart) uit die Ou Apostoliese Kerk in Groenheuwel in die Paarl begrawe.





