Die waterskiër De Wet Rademeyer (17) van die Hoërskool Paarl Gimnasium is Paarl Post se Sportster van die jaar-maandwenner vir Mei.
En tereg so, want ’n mens kry nie aldag ’n kampioen-waterskiër tussen die Bolandse berge nie.
De Wet, wat vanjaar in matriek is, het op ’n baie jong ouderdom by Silwerstrand, Robertson, begin waterski. Hy kon al slalom ski (op een ski) vandat hy net ses jaar oud was.
Hy het egter nooit die geleentheid gehad om behoorlike afrigting te kry of te oefen nie omdat dit nêrens in die Kaap prakties haalbaar was nie.
Dit het wel verander toe ’n ski-skool drie jaar gelede by Vineyard Lake in Stellenbosch begin is. De Wet het toe ernstig begin oefen en kry goeie afrigting by ’n voormalige SA skikampioen Ross Alexander.
Ski is baie harde werk. Hy oefen in die somer en winter, al lê die sneeu op die berge en die water slegs 9 °C. Hy is baie gesteld op sy dieet. Hy is amper elke dag in die gimnasium en het uitstekende selfdissipline.
Ski is ’n sportsoort waarin tegniek en oefening uiters belangrik is. Dit verg tyd om ’n goeie waterskiër te word.
Al hierdie dissipline en oefeninge het vrugte afgewerp. De Wet is in 2020 en 2021 as die o.17- SA waterskikampioen aangewys.
In waterski spring die ouderdomsgroep van o.17 na o.21, wat ’n groot sprong vir ’n 17- jarige is. Nietemin het De Wet onlangs vir die SA span in die SA Waterski & All Africa-kampioenskap, wat in Stellenbosch gehou is, deelgeneem.
Hul grootste teenstanders in die kampioenskap was Namibië, wat ’n sterk span het vanweë goeie geriewe daar.
De Wet het sy staal gewys en was derde in die o.21-afdeling – ’n baie groot prestasie vir dié 17-jarige.
De Wet gaan in die Julie-skoolvakansie vir ’n week in Griekeland by Drepani ski. Dit is ’n baie gerekende ski-skool in Europa. “Ek hy sien baie daarna uit om blootstelling daar te kry, en natuurlik die heerlike somerweer te geniet en in warm water te ski.”
Hy wil aanstaande jaar megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer en sal dan hopelik ook verder by Vineyard Lake in Stellenbosch kan oefen. Sy afrigter, Ross Alexander, is baie opgewonde oor De Wet se vooruitsigte in die sport.





