Dr. Marlene le Roux het Saterdag op haar troudag gestraal. Foto: Jeffrey Abrahams


Dr. Marlene le Roux van Wellington, die uitvoerende hoof van die Kunstekaap, het die afgelope naweek die knoop deurgehak.

Le Roux en haar man, Eduardus van der Borght, het Saterdag tydens ’n intieme seremonie trou aan mekaar beloof.

Die paartjie is by die Church of the Transfiguration in Bellville getroud en die onthaal is in Le Roux se tuin gehou. Le Roux het altesaam 21 strooimeisies gehad en haar dogter, Aimee, het haar die kerk in gebring.

Le Roux en haar man het ’n kranslegging by die troue gehou ter nagedagtenis aan haar ma, wat op Kersdag 2020 oorlede is; vir haar seun Adam, wat serebraal gestremd was en in 2017 oorlede is; en vir Van der Borght se ouers. Van der Borght se pa is verlede jaar – ook op Kersdag – oorlede.

Die paartjie het gaste wat geskenke wou gee, aangemoedig om eerder ’n skenking aan die Friends-dagsorgsentrum vir ernstige gestremdes te gee. – Bron: Die Burger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article