Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) vier in Junie Nasionale Bloedskenkermaand. In hierdie maand streef die WKB daarna om mense bewus te maak van die belangrikheid van bloedskenking en die merkwaardige daad om lewens te red deur bloed te skenk.

“Ons moedig alle geskikte en potensiële bloedskenkers aan om Nasionale Bloedskenkermaand te vier deur die grootste geskenk te gee en die lewe van tot drie mense met slegs een skenking te red,” sê Marike Gevers, bestuurder van openbare betrekkinge by die WKB.

Bloedskenkfeite:
. Een pint bloed (sowat 475 mF) kan tot drie lewens red.. Die mees algemene bloedsoort is O-positief, terwyl AB-negatief die skaarsste is. Mense met AB-bloed kan enige soort bloed van ’n skenker ontvang, en O-negatiewe bloed is vir enigiemand geskik. . Wetenskaplikes het onlangs daarin geslaag om tipes A- en B-bloed in tipe O om te skep. As die proses eendag op groot skaal gedoen kan word, sal dit baie help om die gedurige tekort aan bloed te verlig. . As jy gesond is, sal jy tot 330 keer in jou leeftyd bloed kan skenk.

Dit neem net 20 minute van jou tyd om bloed te skenk.

As jy tussen 16 en 75 jaar oud is, 50 kg of meer weeg, ’n algemene goeie gesondheid handhaaf en ’n veilige seksuele leefstyl lei, behoort jy te kan bloed skenk.

Om jou naaste bloedskenkkliniek te vind, laai gerus die WKB-app af, stuur ’n WhatsApp-boodskap na 060 549 7244 of skakel die WKB tolvry by 0800 O BLOOD (0800 6 25663) of besoek www.wcbs.org.za.

Sluit aan by die poging. Doen iets besonders – skenk bloed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article