Die Paarl se legendariese sjokoladefabriek, De Villiers Sjokolade, gehuisves by Spice Route, sluit sy deure aan die einde van September ná 13 stroopsoet jare.
Volgens Pieter de Villiers, die mede-eienaar van De Villiers Chocolate, wat die onderneming saam met sy vrou, Cornell, bedryf, is hulle “hartseer” oor dié besluit en sal hulle die herinneringe wat in die amper een en ’n halwe dekade gemaak is, vir ewig koester.
Pieter het telefonies aan Paarl Post gesê hy is “dankbaar” vir die mense, en veral Paarliete, wat die onderneming ondersteun en aan hul “droom” geglo het.
In ’n radio-onderhoud met Cape Talk het Pieter verduidelik die rede vir dié slegte nuus is die finansiële opdraande wat die onderneming in die laaste paar jare ervaar het.
Luidens ’n sosialemediaplasing van die onderneming sluit hierdie opdraande die Covid-19-pandemie in, waarin internasionale en plaaslike ekonomieë insinkings beleef het, sowel as die huidige oorlog tussen Oekraïne en Rusland, wat sekere invoere bemoeilik het, sowel as die alombekende beurtkrag wat produksiebeperkings veroorsaak het, asook ’n “rampspoedige” brand in die sjokoladefabriek in November 2022.
Volgens die sosialemediaplasing het die prysstygings van onder meer kakaobone ook tot die besluit bygedra.
Pieter sê dit is vir hom belangrik om nie net te fokus op die slegte nie, maar ook op die herinneringe wat gemaak is, en veral die dekadente sjokolade wat geproduseer is.
De Villiers Sjokolade het verskeie produkte bekendgestel, wat gewissel het van die normale melk- en donker- sjokolade tot dié met neutbotter as ’n basis.
Nuwer produkte, waarvoor die onderneming bekendheid verwerf het, sluit ook in gluten- en suikervrye sjokolade vir diegene wat allergies is vir graansoorte, asook mense wat steeds die lekkerte van sjokolade wou ervaar sonder om die skaal te laat kreun.
Luidens nog ’n sosialemediaplasing van De Villiers Sjokolade het die De Villiers-egpaar in 2010 hul hoede as onderskeidelik ingenieur en onderwyseres opgehang en ’n nuwe avontuur aangepak.
“Hulle het besluit om hul motorhuis in ’n sjokoladefabriek om te skep […] en in die proses het hy [Pieter] ’n wêreldklas-sjokoladefabriek geskep, wat aan Woolworths se gesondheids- en veiligheidstandaarde voldoen het”.





