Met sy liplekker en kleurvolle burgers laat Nizel Fisher jou mond water nog voordat jy die eerste happie geneem het.

Fisher is ’n boorling van Wellington waar hy ook sy eie restaurant, Gourmet Construction Chefs, bestuur. Hy het nog altyd die droom gehad om sy eie restaurant te begin, en toe die pandemie toesak, het hy entrepreneurskap met al twee hande aangepak.

Toe ondernemings twee jaar gelede noodgedwonge as gevolg van Covid-19 moes sluit, was Fisher in diens by ’n trouvenue. Hy en sy kollegas moes ongelukkig instem vir ’n loonverlaging. Toe sakeondernemings weer stadig heropen en Fisher kon terugkeer werk toe, is nog ’n loonverlaging voorgestel.

“Toe sê ek maar ek kan nie, want ek het ’n vrou en kinders. Dis toe dat ek besluit het om my eie onderneming te begin. Ek het geregistreer en alles gedoen. Voordat ek Gourmet Construction Chefs begin het, was ek langer as 12 jaar in die spysenieringsbedryf. Ek het by ’n paar plekke gewerk, wat restaurante in Franschhoek en Boschenmeer insluit. Ek het drie ander sjefs wat saam met my werk.”

Dié 37-jarige pa van vier sê hy was baie siek toe hy die koronavirus opgedoen het. Dit het hom egter nie een keer gekeer om voort te gaan met sy planne nie. Fisher sê dit was nog altyd net ’n droom vir hom om sy eie onderneming op 40 te begin. Hy is trots op homself dat hy dié doelwit bereik het.

Die aanloklike kleure van die burger-rolletjies van Gourmet Construction Chefs is een van die redes waarom sy burgers so gewild en ’n treffer is. Vir Fisher gaan dit nie net oor kosmaak nie, maar ook die interaksie wat hy met sy klante het. Dit is ook hoekom hy die “chefs table” het waar mense ’n tafel kan bespreek en hy hul kos teenaan die tafel voorberei.

Volgens Fisher is sy restaurant, in Joubertstraat, ook daarop gefokus om vir “ons mense” toegang tot vyfster-kos te bied. “En as ek praat van ‘ons mense’, dan praat ek van ons middelklasmense wat nie altyd toegang tot vyfster-kos of burgers of sulke etes het nie. So, dit is hoekom ek besluit het ek doen wat ek doen om ons mense – middelklasmense – daai experience teen ’n bekostigbare prys te gee.”

Buiten die kos wat hy maak en voorsit, is hy boonop ’n baskitaarspeler ook. Hy was jare lank lid van die musiekgroep Fireball, saam met wie hy vir sewe jaar in Doebai gespeel het. Nadat hy sy vrou, Wendy, ontmoet het, het Fisher opgehou toer. Dit het nie die einde van sy musiekloopbaan beteken nie. Hy slaan steeds die note los en tokkel sy kitaar warm wanneer hy saam met plaaslike kunstenaars soos Loren Erasmus en Triveno Smith optree.

Terwyl hy sy restaurant sterker bou, mik Fisher daarna om Gourmet Construction Chefs tot ’n kettingrestaurant uit te brei. Hy is ook erg daaroor om werk vir ander te skep.

“My planne is baie groot. Ek wil baie graag restaurante hê vir werkskepping, veral vir ons mense omdat ons almal op die oomblik onder druk is – veral in die voedselbedryf. So, ons probeer nou ons bes om staande te bly.”

Wat sy onderneming so suksesvol in sy kort bestaan maak, sê Fisher, is dat hy anders as ander sjefs is en ander goed probeer. Hy voel ook die Here het die restaurant op sy hart gelê en hy kan hierdeur na die gemeenskap uitreik.

“ ’n Boodskap van inspirasie vir ander jong entrepreneurs is net om deur te druk, hard te werk en te glo aan jouself. Wees net jouself en doen dit waarmee jy goed is.”

.
With his lip-smacking and colourful burgers, Nizel Fisher makes your mouth water even before you take the first bite.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article